$560 miljoen is hare – as sy haar naam bekend maak

Argieffoto

Die wennommers is drie keer nagegaan en die loterykaartjie is onderteken – die vrou van New Hampshire het geweet haar lewe sal vir altyd verander, buiten een vreesaanjaende ding.

As die wenner van verlede maand se $560 miljoen (R6,7 miljard) Powerball-boerpot, sal haar bankrekening binnekort ʼn stewige hupstoot kry. Maar as gevolg van reëls in ʼn lotery, moet sy haar naam bekend maak en sal almal in die wêreld daarvan te hore kom – bure, ou hoërskoolvriende, swendelaars en misdadigers.

Die vrou poog nou om ʼn regter te kry wat haar sal toelaat om die geld in ontvangs te neem, maar anoniem te bly. In hofdokumente, wat deur NewHampsire.com bekom is, staan sy slegs as “Jane Doe” bekend.

“Sy woon al lank in New Hampshire en is ʼn betrokke gemeenskapslid,” het die vrou se prokureur, Steven Gordon, in die hofdokumente aangevoer. “Sy wil graag met dié werk voortgaan en wil die vryheid hê om openbare geleenthede by te woon of net by ʼn kruidenierswarewinkel instap sonder om herken te word of geteiken te word as die wenner van ʼn half miljard dollar.”

Aan die een kant voer beamptes aan die integriteit van die lotery is afhanklik van die openbare bekendmaking van sy wenners as ʼn beskerming teen bedrog en misdadigers. ʼn Plaaslike vrou wat ʼn groot tjek voor die kameras ophou, en verslaggewers wat die geleentheid aangryp om daaroor te berig, is goeie bemarking.

Aan die ander kant is daar ʼn vrou wat skielik ʼn lewensveranderende gelukskoot in die gesig staar en, volgens dokumente, “wil sy graag buite die kollig bly en die teenspoed vryspring wat ander loterywenners getref het”.

Dit wil voorkom of die wet nie aan haar kant is nie.

New Hampshire se loteryreëls bepaal dat die wenner se naam, dorp en bedrag wat gewen is, publiek gemaak moet word. Die staat laat mense toe om ʼn anonieme trust op te stel, aldus NewHampshire.com, maar dit is nie ʼn opsie vir die vrou wat reeds haar handtekening neergepen het nie. Die kaartjie sal nietig verklaar word indien haar handtekening gewysig sou word.

Charlie McIntyre, uitvoerende direkteur vir die New Hampshire-lotery, het gesê die kommissie het met die prokureur-generaal se kantoor in verbinding getree en die Powerball-wenner moet “soos enigiemand anders” aan die reëls oor bekendmaking voldoen.

“Die New Hampshire-lotery het begrip dat ʼn boerpot van $560 miljoen ingrypend is,” lui ʼn verklaring. “Die prosedures wat in plek gestel is vir die opeis van pryse is egter noodsaaklik vir die sekuriteit en integriteit van die lotery, ons deelnemers en ons spel. Ons respekteer die vrou se behoefte om anoniem te bly, maar statute en loteryreëls bepaal duidelik die protokol.”

Ander loterywenners het al ontdek dat ʼn droom vinnig in ʼn nagmerrie kan verander. Daar is verskeie probleme wat skielik iemand kan oorkom wat skielik ryk geword het. Daar is natuurlik ook verskeie voorbeelde van persone wat gepoog het om wenners uit hul kontant te bedrieg of die geld selfs met mag afgeneem het.

Craigory Burch Jr. het byvoorbeeld in November 2015 ʼn boerpot van $434 272 gewen, het Lindsey Bever van die Washington Post berig. Twee maande later, het die polisie gesê, is Burch deur sewe mans oorval en vermoor. Sy familie het gesê die publieke aankondiging van sy skielike rykdom het hom ʼn teiken gemaak.

Abraham Shakespeare het in 2006 ʼn boerpot van $30 miljoen gewyn. hy is twee jaar later deur Dorice “Dee Dee” Moore genader, wat gesê het sy skryf ʼn boek oor hoe mense hom uitbuit. Sy het binnekort sy finansiële raadgewer geword en stadigaan sy geld gesteel, volgens Fox News. Hy het daarvan te hore gekom en gedreig om hom dood te maak, sy het hom egter eerste vermoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

rafel ·

Ai siestog; met so baie geld kan mens darem seker baie vinnig verdwyn en n nuwe lewe begin?

John ·

Kry die geld, volgende dag is my huis verkoop vir spot goedkoop, my klere gepak en ek is op die eerste vlug na ‘n ander land. Daar verander ek my identiteit en voorkoms en tada, niemand weet meer wie ek is nie.

Chrisjan ·

Met so mooi bedrag vat ek AL ons kinders saam na ‘n beskaafde land toe(beslis BUITE Afrika!)Ons kan saam op ‘n stuk grond woon in vrede tot aan die einde van ons dae!

Andre ·

Al hierdie harige goed wat van die wenners oorgekom het , het in beskaafde lande gebeur

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.