90-jariges se raad aan ons jonges

Argieffoto (Foto: Pavlo/Pixabay)

Wysheid en ervaring is iets wat gewoonlik eers met ouderdom kom. Soms wens jy dat jy die kennis wat jy nou het, met jouself kon deel toe jy nog jonk was.

Sahil Bloom, skrywer, en suksesvolle fondsbestuurder en entrepreneur, skryf op sosiale media hy het vir sy 32ste verjaarsdag by ʼn paar 90-jariges aangeklop om te hoor watter raad hulle graag sou wou hê toe hulle 32 jaar oud was.

  • Haal gerus soms die fyn porselein uit die kas en drink die goeie wyn – sommer sonder ʼn rede.
  • Dans by troues totdat jou voete seer is.
  • Sê elke aand vir jou huweliksmaat dat jy vir hom of haar lief is voor julle aan die slaap raak. Daar kan dalk ʼn dag kom wat die ander kant van die bed leeg is, en dan gaan jy wens jy het dit gedoen.
  • Moenie bang wees vir hartseer nie. Dit sit soms regs langs liefde.
  • Hanteer jou liggaam asof dit ʼn huis is waarin jy vir die volgende 70 jaar gaan moet bly.
  • Moet nooit jou stem verhef nie – tensy jy by ʼn wedstryd is.
  • Doen elke dag ʼn goeie ding – maar moet nooit enigiemand daarvan vertel nie.
  • Tyd maak nie altyd alles gesond wanneer dit kom by verhoudings nie. Moenie moeilike gesprekke agterweë laat nie.
  • Soek dinge wat jou oë laat skitter – en doen dan nog meer sulke goed.
  • As iets ʼn klein foutjie het, maak dit reg. Klein foutjies kan mettertyd groot foute word. Dit geld vir liefde, vriendskappe, mens se gesondheid en jou huis.
  • Die mees verdoemende leuen wat jy kan vertel, is die leuen wat jy jouself maak glo.
  • Niemand het hulself al ooit gelukkig gestry nie.
  • Dis nie ʼn piekniek om ouer te word nie, maar dit is baie beter as die alternatief.
  • Moenie toelaat dat vriendskappe agterweë bly nie. Stuur ʼn boodskap, tel die telefoon op, beplan ʼn reis. Goeie vriendskappe moet gekoester word.
  • As jy iemand ontmoet, kyk hulle in die oë, skud hulle blad, en sê hulle naam hardop.
  • Die “goeie ou dae” gebeur altyd op hierdie oomblik.
  • Wanneer jy iemand omhels, maak seker dat hulle altyd eerste los.
  • As dit op ʼn warm somersaand reën, maak seker jy gaan dans buite in die reën.
  • Om geen risiko te waag nie, is die grootste risiko. Spyt dat jy iets nie gedoen het nie, is altyd baie slegter as spyt oor iets wat jy wel gedoen het.
  • Dit hoef nie perfek te wees om wonderlik te wees nie.
  • Wanneer jy bietjie af voel, kyk vir jouself in ʼn spieël en glimlag ʼn minuut lank.
  • Reis soveel as wat jy kan. Versamel met elke reis een herinnering.
  • As iets jou pla, vra jouself of dit jou oor ʼn maand nog steeds gaan pla. As dit nie sal nie, vergeet daarvan.
  • Jy kan dalk die argument wen, maar as jy die vriendskap verloor, was dit dan die moeite werd?
  • Doen elke dag een ding wat jou verstand uitdaag – of dit nou ʼn blokkiesraaisel is of ʼn wiskundeprobleem, enigiets. Daaglikse “oefening” sal jou verstand helder hou.
  • Glimlag en groet vreemdelinge in die straat.
  • Lag lekker en met oorgawe wanneer jy wil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

WILLEM ·

Wysheid met die grysheid – deel dit met jou nageslag!!
Maar onthou ook om te vertel dat jou Skepper jou die gawes en wysheid gegee het om te gebruik. Hy is altyd naby jou!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.