91-jarige vang graad

Kimlun Jinakul (91) tydens haar gradeplegtigheid op 9 Augustus 2017 by Sukhothai Thammathirat Open University Foto: AP Photo

ʼn 91-jarige vrou het haar BA-graad in Thailand gevang.

Kimlun Jinakul het saam met haar familie meer as 700 km van Phayao na Sukhothai Thammathirat Open University naby Bangkok afgelê om op 9 Augustus haar graad in menslike ekologie te ontvang.

“Dit was nog altyd my droom om my studies voort te sit,” het Kimlun aan die plaaslike televisiestasie Thai PBS gesê. Sy het haar hoërskoolloopbaan voltooi, maar kon nie in daardie stadium studeer nie, omdat haar familie dit nie kon bekostig nie.

“Ek het altyd goed gedoen op skool. Ek was altyd lief vir lees. Ek het selfs handleidings aangeskaf om myself op te lei sodat ek my kinders met hul huiswerk kon help,” het sy gesê.

Kimlun het gesê sy is in 2011 geïnspireer om haar formele studie voort te sit, toe haar kinders en kleinkinders hul universiteitsopleiding voltooi en begin werk het.

“Dis nooit te laat om te begin studeer nie,” verduidelik sy.

Bhum Juasiripakdee, een van Kimlun se kleinkinders, het gesê sy ouma is baie doelgerig. “Ons het haar almal ondersteun en seker gemaak dat sy gesond bly.”

Die universiteit het gesê Kimlun het nie enige spesiale behandeling ontvang wat haar uitslae betref nie. Sy het ʼn paar kursusse gedruip en moes verskeie eksamens ʼn paar keer aflê.

“Maar die universiteit het dit vir my baie gerieflik gemaak,” voeg Kimlun by. “Hulle het lokale op die grondvloer beskikbaar gemaak sodat ek nie hoef trappe te klim nie.”

Die universiteit is die eerste in Thailand wat afstandsonderrig vir ouer persone aanbied. Meer as 200 persone ouer as 60 jaar oud het ingeskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Magaretha van heerden ·

Ek weet ons as studente het so gepraat maar dit ontstel my as die media praat van graad vang Is dit gegooi? Sy’t haar graad behaal deur hard te werk. Die is maar een voorbeeld van die swak taal gebruik deesdae. Later sal niemand weet hoe om te praat nie. Ek is bly sy het haar doelwit bereik.

Eish ·

Ag, kom ons vergewe hul maar. Die tante het maar gereeld gedruip en moes (her) van die vakke oorskryf. Dus het die pap maar bykans op die grond geval.

MissDemeanor ·

Ag Magaretha. Mens noem so ‘n uitdrukking ‘n idioom (by wyse van spreke). Om te praat van “graad vang” is deel van ons Afrikaanse taal. Niks fout daarmee nie.

J ·

Ek haal my hoed vir Haar af. Sy stel voorbeeld as jy nie jou brein gebruik dan SAL jy hom VERLOOR dmv baie soorte brein vernietigende siektes. ?✋

Dirk ·

Ja nê! Sy het baie meer tussen die ore as sommige regeerders. Duidelik in ‘n klas van haar eie. Wat ‘n voorbeeld!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.