Aanneemkinders is toe regtig boetie en sussie

Grayson en Hannah (Foto: Katie Page)

Katie Page van Colorado in die VSA het Grayson (2) en Hannah (1) aangeneem en ná ʼn lang soektog om die raaisel oor hul geboorte op te los, het sy ontdek hulle is biologies boetie en sussie.

“Hulle moes mekaar weer vind, ek is seker daarvan,” het Katie aan InsideEdition gesê. Sy het hulle albei as pasgebore babas aangeneem.

Katie wou altyd ʼn ma word, maar toe sy tydens haar huwelik gesukkel het om swanger te word, en in haar 30’s geskei is, het sy besluit om ʼn aanneemma te word. Haar aansoek is op Moedersdag 2016 gefinaliseer en sy het haar deur oopgemaak vir verskeie korttermynplasings van kinders.

ʼn Maatskaplike werker wou weet of Katie graag ʼn babaseuntjie wou aanneem wie se ma hom tydens die swangerskap aan dwelmmiddels blootgestel het. Katie het dadelik ingestem en hom ʼn paar uur later by die hospitaal gaan oplaai. “Ek was dadelik verlief toe ek hom in my arms hou. Ek was nogal skrikkerig om ʼn pasgebore babaseuntjie in my huis te verwelkom met minder as ʼn dag se kennisgewing, maar dis die beste besluit wat ek nog ooit gemaak het.”

Die seuntjie se biologiese ma is kort ná die geboorte weg by die hospitaal. Sy het vervalste inligting ingevul en hulle kon haar nie weer opspoor nie.

Katie het die seuntjie Grayson genoem en sy aanneming is op 25 Mei 2017 gefinaliseer.

ʼn Paar maande later het ʼn maatskaplike werker haar weer gekontak en laat weet daar is nog ʼn pasgebore babadogtertjie. Katie verduidelik sy het ʼn vreemde gevoel gehad dat sy tog moet instem. Die dogtertjie, genaamd Hannah, was ʼn paar dae oud en is in dieselfde hospitaal as Grayson gebore. Sy het dieselfde mediese probleme as Grayson gehad.

Alhoewel die kontakbesonderhede vir Grayson se biologiese ma nie akkuraat was nie, was dit dieselfde besonderhede wat op die dogtertjie se vorms ingevul is.

“Ek het vermoed dat daar dalk ʼn verbintenis kon wees. Ek het geweet daar is iets spesiaal aan dié klein meisie en dat sy dalk die verbintenis kon wees met Grayson se familie.”

Hannah se ma het daarin belang gestel om haar te besoek en alhoewel Katie nie inligting oor Grayson bekend gemaak het nie, het ʼn aanvanklike gesprek met die vrou bykomende inligting gebied.

ʼn DNS-toets is gedoen en daar is bevind dat Grayson en Hannah inderdaad biologiese broer en suster is.

Volgens Katie is dit baie spesiaal dat dié twee in dieselfde huis geplaas is. “Die liefde tussen hulle is wonderlik en hulle verdien dit om by mekaar te bly. God het hulle duidelik bymekaar gebring vir ʼn rede, ondanks verskeie hindernisse wat hulle lewenslank van mekaar sou skei.”

Lees meer: Global News, ABC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

madels ·

Dis sooo wonderlik! Dankie Here dat hulle nie van mekaar geskei is nie. Hoe kosbaar om as aanneem kinders in dieselfde huis groot te word.

Hoendervleis ·

Ag dis nou n pragtige storie. Dank die Here hy het die tweetjies weer saam gevoeg.

JAN ·

Kosbare voortreflike werk deur maatskaplike dienste. Die plasing van weeskinders aanneming is alles in cognito ….geheim.
Lyk selfs bo-natuurlik.
Geseende werk voorwaar.
Die allermooiste goedjies.!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.