Afrikaans die inspirasie agter Adena se werk

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Elke kunstenaar wil deur sy werk standpunt inneem of ʼn boodskap aan sy gehoor oordra.

Adena Richardson se uitstalling “teRUG” is ʼn soeke na ʼn identiteit en die besef dat ons identiteit nie stilstaan nie, maar dat ons deur konstante verandering gaan. Sy meen ons kan nie weet wie ons is as ons nie terugkyk na ons geskiedenis en daaruit leer nie. So sal ons ook nie weet waarheen om te gaan nie. Sy vorm ʼn oulike woordspeling met “teRUG” – sy kyk na haar verlede en gebruik haar rug in baie van haar kunswerke.

Adena sê sy probeer aspekte van haar Afrikaner-erfenis en opkomende identiteit karteer. “My werk is ʼn interne weerkaatsing van hierdie transisie waardeur ek gaan; Jy leer ken jouself soos wat jy groot word, dan kry jy nuwe kennis en jy groei en ontwikkel. Sodoende verander dit – hoe ek my wêreld sien en hoe ek daaroor gedink het.”

Die uitstalling vorm deel van haar meestersgraad, maar haar taal het haar eintlik op hierdie pad gesit. Sy het vier jaar in Egipte gebly en was op soek na die manier hoe sy dié ondervinding kon konnekteer met haarself as Afrikaner. Volgens Adena het die ontdekking van Arabies-Afrikaans ʼn baie groot rol gespeel.

“Die eerste geskrewe Afrikaans was in Arabiese skrif. ” Sy het in Egipte haarself as buitestander beskou en bevraagteken oor wie en wat sy is. Die verskil van kultuur en geloof was ook vir haar baie duidelik.  So het die inspirasie gekom om terug te kyk na haar geskiedenis en haar taal.

“Ek het dit gebruik as ʼn manier om myself te soek en om te weet hoe gaan ek vorentoe as Afrikaner-vrou.”

Hierdie konsepte het sy in haar uitstalling uitgebeeld deur verskeie aspekte bymekaar te bring. Sy speel met verskillende materiale om haar transformasie te beklemtoon. Haar rug word  ʼn kaart, rots beweeg oor na sand, hoogte na diepte, en dit alles as ʼn aanduiding van ʼn metaforiese oordrag van haar opkomende vroulike Afrikaner-identiteit.

“Al wat ons kan doen, is soek na ʼn beter toekoms vir onsself en om te kyk waar ons inpas in vandag se wêreld.”

Adena se werk word uitgestal by die Beijing Biennale 2015, maar is ook te sien in die Universiteit van Johannesburg se galery. Vir bestellings of meer besonderhede, stuur gerus vir Adena ʼn e-pos by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.