Afrikaanse papegaai doen aanlyninkopies

Barry en Corienne (Foto Instagram)

Barry, ʼn African Grey wat in Londen woon en wat Afrikaans praat het onlangs aanlyninkopies gedoen sonder sy eienaars se wete.

Barry se eienaar, Corienne Pretorius, was verbaas toe sy die e-pos kry wat ʼn bestelling op Amazon bevestig.

Pretorius het by die huis gekom en gehoor hoe Barry met Alexa praat. Alexa is ʼn intelligente Bluetooth-luidspreker wat kan reageer op stem-bevele. ʼn Mens kan Alexa só stel dat dit byvoorbeeld pizza bestel, herinneringe lys of selfs ʼn grappie vertel.

“Barry het net so twee dae tevore geleer om ‘Alexa’ te sê. Ek het gehoor hy babbel, maar ek het nie baie aandag daaraan gegee nie,” het Pretorius aan Maroela Media gesê.

“Ek het toe na my kantoor toe gegaan en op my rekenaar begin werk. Dis tóé dat ek ʼn e-pos kry om my Amazon-bestelling te bevestig. Ek kon nie verstaan wat aangaan nie, want ek het niks bestel nie. Gelukkig neem Amazon al die telefoonoproepe op, en ek het daarna gaan luister.”

Pretorius het toe gehoor hoe Barry vir Alexa roep en aktiveer. Alexa het vrae gevra en Barry het met geluide geantwoord. “Toe Alexa vra om die bestelling te bevestig, het Barry met ʼn snaakse geluid gereageer wat Alexa toe as ‘ja’ aanvaar het,” het Pretorius gesê.

Die Instagram-inskrywing wat Corienne gemaak het oor wat gebeur het (Foto: Instagram)

“Barry het ʼn spul dekoratiewe bokse bestel, maar gelukkig kon ek die bestelling kanselleer.”

Pretorius praat Afrikaans met haar gesin, en dít is waar Barry Afrikaans aangeleer het.

“Hy sê elke aand as ons kamer toe gaan ‘lekker slaap!’ en partykeer sê hy ook ‘koppie krap’. Afrikaans is ons huistaal, so hy sê maar wat hy hoor. Verder miaau hy en maak baie geluide.”

Pretorius sê die aandag wat Barry oor sy bestelling gekry het, was ʼn verrassing vir haar.

“Die voorval het verskriklik baie aandag getrek, ek het dit glad nie verwag nie! Ek het dit eintlik net op ʼn groep vir Suid-Afrikaanse mammas in Londen gedeel, en is daarna deur ʼn agentskap genader om ʼn storie te doen. Sedertdien is Barry oral!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Petra Bronn ·

Die papegaaie is baie slim.Kenners hou vol die voèls mimiek net,maar ek het een gehad wat tot gevra het vir wat hy lus het om te eet.As hy vir peer vra,kon jy nie vir hom appel gee nie.Hy het presies geweet en elke vrug geken.
Litchis was sy gunsteling en ek het buite litchi seisoen baie met n dikbek papegaai gesit.
Hy kon tot aanvoel in watse bui ek is.As ek ag eas die dag het hy styf teen my nek kom sit en sy snawel teen my wang gedruk en as ek goed gevoel het was hy laf en het hy my hare deurmekaar gekrap en soos ek gelag!
Hy het een dag geskrik vir iemand en gevlieg…ek het weke lank die omgewing gefynkam en na hom geroep,maar onsuksesvol.
Hierdie papegaai was voorwaar vir my n sielsgenoot!
Dit is nou al vyf jaar wat hy weg is.
Pas julle papegaaie mooi op,en moenie dink dit is veilig om nie sy vlerk te knip nie,want hy is mos mak by jou.
Hulle skrik vir iets of iemand anders,dan is vlieg die eerste reaksie.

Mariné Lourens ·

Dagsê Houtoog

Baie dankie vir jou kommentaar. Die berig is gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

De La Rey ·

Lekker lag ek nou! Dankie MM dat jul altyd sulke oulike berigte deel.

Helene ·

Dankie vir die pittige berig. Barry baie oulik. Petra jammer om van jou verlies te hoor al is dit vyf jaar later. Ja dit gebeur as hulle skrik. Dit het met ‘n vriendin van my gebeur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.