Byna soos ʼn toneel uit ʼn fliek moes ʼn Indiese spoorwegwerknemer vinnig dink en het op sy motorfiets gespring om ʼn wegholtrein in te haal en dit voor te keer.
Die elektriese trein het ongeveer 13 km van Wadi-stasie in Kalaburagi in Indië sonder ʼn drywer gereis. Die dramatiese “jaagtog” het ongeveer 20 minute lank geduur toe die motorfiets uiteindelik die trein, ongeveer 1 km voor die volgende stasie, kon inhaal en dit tot stilstand kon bring.
Die Mumbai Mail van Chennai het Woensdag ongeveer 15:00 by Wadi-stasie aangekom. Die elektriese spoor hou op by Wadi, so ʼn dieselenjin word dan aan die lokomotief vasgemaak vir die reis van Wadi na Solapur.
Die drywer van die elektriese enjin het omstreeks 15:30 nog op die platform gestaan en om die trein geloop. Binne oomblikke het die trein vanself begin loop en die drywer het in ongeloof toegekyk. Owerhede by Wadi-stasie het dadelik die volgende paar stasies laat weet om die sinjale en spore oop te hou en treine te verhoed om van die teenoorgestelde rigting aan te kom.
Die elektriese enjin het teen ongeveer 30 km/h gereis en die stasiebestuurder en die drywer het op ʼn motorfiets gespring – agter die trein aan. Hulle het die lokomotief omstreeks 15:50 ingehaal en die drywer het van die motorfiets af tot op die trein gespring om dit tot stilstand te bring.
Die stasiebestuurder het verduidelik die wegholtrein kon ʼn baie groot ongeluk veroorsaak het indien dit ʼn aankomende trein getref het.
Owerhede het nog nie besonderhede bekend gemaak hoe die elektriese enjin vanself kon begin ry nie. ʼn Ondersoek is van stapel gestuur.
Bron: Hindustan Times
Ek hoop darm hulle gee vir hom ‘n nuwe motorfiets!
Haha Jollie, PRESIES my eerste gedagte!
Ek dink hulle moet baie bly wees hulle het GEDINK ??????
2de paragraaf die jaagtog duur 20 minute, toe die motorfiets die trein tot stilstand gebring het?
Seker een van die vele spoke wat nie kon wag om die trein te ry nie hahaha.