Alles verkoop vir ʼn seiljag; dit sink op die tweede dag

Tanner Broadwell en Nikki Walsh saam met Remy (Foto: Nikki Walsh, Facebook)

ʼn Egpaar van Colorado in die VSA het alles wat hul besit verkoop om ʼn seiljag te koop, en gereed gemaak om die oseane te verken.

Binne twee dae het die droom egter ʼn nagmerrie geword.

Tanner Broadwell en Nikki Walsh was op pad na Key West toe die reis skielik naby Madeira Beach in Florida ʼn wending geneem het. Hul 28 voet (8.5 meter lange) seilboot het verlede Woensdagaand iets onderwater getref.

“Ons het iets getref en die seiljag het dadelik tot stilstand gekom,” het Broadwell aan die televisiestasie WFTS gesê. Water het by die kajuit begin instroom en hul droom het begin sink.

Die egpaar het hul identiteitsdokumente, kontant en hul hondjie Remy gegryp en hulp ontbied.

Volgens die Tampa Bay Times het ʼn skip ongeveer ʼn uur later opgedaag, maar die water was te vlak om die egpaar te nader. Die egpaar en Remy het in die water gespring en hul seiljag (en drome!) agtergelaat.

“Alles waarvoor ek gewerk het, alles wat ek al sedert my kinderjare besit het, het ek saamgevat. Nou het dit weggedryf en daar is niks wat ek kan doen nie,” het Walsh aan WFTS gesê.

Broadwell en Walsh is verlede jaar weg uit Colorado nadat hulle al hul besittings verkoop het, insluitend ʼn motor, om Lagniappe vir $5 000 (byna R60 000) gekoop het. Dit het ʼn jaar lank geduur en nog $5 000 om die seiljag gereed te kry om op die oop see te vaar, berig Tampa Bay Times.

Nou sal dit die egpaar duisende rand kos om Lagniappe uit die kanaal te haal.

Selfs sonder enige spaargeld of ʼn dak oor hul kop het die egpaar gesê hulle sal nie die droom laat vaar nie. “Die boot het gesink, maar ons droom het nie saam met die boot gesink nie,” het Walsh bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jack Klok ·

As jy dom is gaan jy teenspoed optel. Indien jy jou hele lewe moes opspaar en al jou besittings verkoop om ‘n seiljag vir $5000 dollar plus nog $5000 om alles “gereed” te maak beteken dit dat jy eerstens nie ‘n baie goeie seiljag kon gekoop het nie, tweedens dat jy waarskynlik geen ondervinding van seil het nie omdat jy jou self laat inloop het en derdens dat jy nie eers geweet het hoe diep water jou nuwe speelding nodig het om in te vaar.

Alvorens mense hulle self op die see mag begeef behoort hulle eers ‘n kursus deurloop soortgelyk aan motorbestuurders. Wonder of hierdie twee enigiets vooraf bestudeer het.

John Samuel ·

Watter “kursus” sou hulle voorberei het om iets onder die water te kon bespeur en vermy…?
Hulle het my Respek(!) dat hulle hul droom so kon najaag. Alles is gelukkig nie verlore nie – ek hoop hulle kan hulle boot uit die kanaal haal (refloat), en hom herstel…
Ek wens julle Alles Sterkte toe!! Moenie [soos sommige mense] nou opgee op julle Droom nie!!!

Danie Malan ·

Jip, hulle kon dalk effens beter voorberei het, maar hulle is nog steeds stukke beter as mensies wat week na week, maand na maand, jaar na jaar elke dag werk toe gaan en elke jaar op dieselfde plek gaan vakansie hou. :):):)

PC van Rooyen ·

As bederfde pug eienaar wil ek glo die hond moes eerste gered word. Remy sal by julle staan om jul droom te verwesentlik.

Sterkte ·

Aggggg dis nou so mooi storie met so n hartseer einde.
Hoop julle kom sommer gou reg met julle droom vorentoe.
Dit is waar mens doen elke dag dieselfde, ek is mal oor mense wat waag en die lewe met altwee hande aan pak.

Jammer ·

Ek bewonder mense wat hul lewensdroom najaag.. Dis jammer van die skade en ek hoop hulle kry dit nogtans reg om uiteindelik hul droom te bewaarheid.

Money talks ·

Kyk ons het ook nie veel nie maar as alles wat ons het verkoop kon word vir R60 000 dan het hulle ook nie veel gehad nie. Wonder net of die PUG die trippie geniet het .. foeitog het ook maar nie ‘n keuse gehad nie. Julle moet maar weer van vooraf begin spaar vir ‘n nuwe seiljag, ek gun elkeen sy droom, maar hoe minder geld jy het hoe kleiner jou droom. Jammer maar geld praat ORAL!

Waghond ·

Moenie tou opgee en moed verloor nie. Gaan voort om jul drome te droom en te verwesenlik.

Johann Marx ·

Twee derdes van die planeet is water…..wat doen die mens? Bou ‘n boot en vaar in die land vas. 16km Stratosfeer om die planeet….wat doen die mens? Bou ‘n vliegtuig en vlieg in ‘n berg vas. ‘n Kar het vier wiele…wat doen die mens? Haal twee af….sit ‘n helmet op en val jouself moeg…en wonder wat het gebeur? Ai….die mensDOM darem…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.