Alligator het 70 muntstukke ingesluk

(Foto: The Omaha Zoo/Instagram)

As deel van roetinesorg, het 10 Amerikaanse alligators by die Omaha-dieretuin in Nebraska, VSA, toetse ondergaan om hul gesondheid te bepaal.

Tydens die ondersoek is bloedmonsters versamel en X-strale is geneem. Danksy dekades se vertrouensverhouding wat opgebou is, neem die diere vrywillig deel aan hul veeartsenysorg, het die dieretuin in ʼn plasing op sosiale media gesê.

Vreemde metaal voorwerpe is egter in die maag van ʼn ikoniese inwoner van die dieretuin, die 36-jarige Amerikaanse alligator genaamd Thibodaux, opgemerk.

ʼn Prosedure is op 15 Februarie uitgevoer om die voorwerpe te verwyder voor dit enige verdere probleme veroorsaak en die span het 70 Amerikaanse muntstukke uit sy maag verwyder.

“Thibodaux is onder verdowing geplaas en ons kon hom veilig bestuur tydens die prosedure,” het veearts Christina Ploog by Omaha se Henry Doorly Zoo and Aquarium, gesê. “ʼn Plastiekpyp is gebruik om sy bek te beskerm en om die instrumente op ʼn veilige manier te gebruik om die muntstukke te verwyder.”

Een van die instrumente was ʼn inwendige kamera wat veeartse tydens die prosedure gelei het.

Al die muntstukke is suksesvol verwyder, soos bevestig deur ʼn opvolg-X-straal.

Thibodaux het goed aangesterk ná die prosedure en is terug in sy habitat.

“Alhoewel só prosedure ongewoon is, is dit ʼn uitstekende voorbeeld van ons sorg en dit wat die dieregesondheidspanne daagliks op ons kampus doen,” het veearts Taylor Yaw, direkteur van dieregesondheid, bygevoeg.

Die dieretuin het besoekers versoek om nie enige muntstukke in water te gooi by die dieretuin nie. Los munte kan eerder in ʼn soewenier-muntstuk omskep word by een van die masjiene by die dieretuin. Daar is ook ʼn wensput by die Desert Dome waar besoekers hul muntstukke kan ingooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Duck ·

Die alligator het die mense opgevreet maar die geld het agter gebly (vir ‘n rainy day)

Renier ·

Mense gooi die muntstukke in hul bekke as hulle by die hok staan in die dieretuin .Was daar,het die gesien,en twee ingekry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.