Almal gaande oor koei wat ‘heldhaftig’ op pad na slaghuis ontsnap

Argieffoto (doctorpenganan.blogspot.com)

ʼn Koei van Pole haal internasionale nuusopskrifte nadat sy dit naelskraaps vermy het om in ʼn slaghuis te beland deur uit ʼn vragmotor los te breek, deur ʼn meer te swem en eindelik stoksielalleen op ʼn eilandjie te gaan woon.

The Independent berig dié koei was verlede maand saam met talle ander op pad na die slaghuis toe die voorval plaasgevind het.

Volgens haar eienaar, net bekend as mnr. Lukasz op sosiale media, het sy deur die tralies van die vragmotor gebreek en teen ʼn hoë snelheid na die Nysameer gehardloop waar sy glo ingespring en tot by veiligheid geswem het.

Volgens Lukasz het hy die koei later weer terug op die plaas probeer kry waarna sy een van sy werkers se arms gebreek het – byna asof sy geweet het wat haar lot is.

Volgens hom het hy die koei selfs in ʼn stadium “onderwater sien gaan” voordat sy weer na veiligheid op die grond uitgebeur het.

Lukasz het aan die Poolse nuuswebwerf Wiadomosci gesê nóg hy nóg nooddienswerkers kon daarin slaag om die koei van die eiland af te kry.

Om die waarheid te sê, toe die brandweerbeamptes per boot na die eiland gereis het om die koei terug na die plaas te neem, het sy weer in die water gespring en na ʼn ander oop stuk grond geswem.

ʼn Veearts het aan Lukasz gesê daar is tans geen voorraad middels in die omgewing om die koei te verdoof nie, en hy het ook daarteen besluit om die koei te skiet.

Die Poolse politikus Pawel Kukiz, ook ʼn voormalige sanger, het vroeër in ʼn inskrywing op Facebook gesê hy sal persoonlik betaal om te verseker dat die koei nié uitgesit moet word nie.

“Die koei het heldhaftig ontsnap en op die eiland in die middel van die meer gaan woon,” het hy geskryf. “Sy het haar nie eens aan brandbestryders gesteur wat haar per boot na veiligheid wou vervoer nie. Ek is nie ʼn vegetariër nie, maar om te veg vir hierdie koei se lewe is van onskatbare waarde. Daarom het ek besluit om alles te doen om die koei aan die lewe te hou en haar op ʼn veilige plek te kry. As beloning vir haar optrede gee ek haar die waarborg van ʼn langtermyn-aftrede en ʼn natuurlike dood.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eben ·

Ek is bly dat die koei gerespekteer word vir helddadigheid. Hulle moet haar maar in afsondering tot sy van natuurlike oorsake sterf. Tussen die ander koeie kan sy net die hele kudde inspireer om ook so op te tree.

Animal ·

Dit is hoekom ek 5 jaar laas vleis geeet het. Die diere het gevoelens, emosies en voel pyn en hartseer net soos mense. Dit is waar die 269-beweging ook begin het. Nog ‘n koei wat probeer wegkom het van die slagpale. Hul vrees vat die oorhand. As slagpale glas mure het sal niemand vleis eet nie. Ek hoop hierdie koei het ‘n gelukkige, liefdevolle en vreeslose lewe.

Koei ·

Ek is so dankbaar die koei gaan gespaar word. Ek sal nou baie moeiliker aan beesvleis eet.

Denise ·

Op en wakker koei sy weet as jy in daai trok klim is dit verby dit is hoekom sy so ver gevlug het dierlike instink goed vir haar !!!!

FM ·

Party van julle is maar baie onkundig omtrent beeste. 1. Die koei het beslis nie uitgebreek omdat sy geweet het sy gaan geslag word nie. Het iemand nou vir haar gesê sy gaan geslag word? 2. EN heel moontlik was daar n swak plek in die traliewerk waar die koei op die vragmotor gestaan het. Dit het gemaak dat die koei afgeval het en toe so groot geskrik het. Beeste skrik maklik en die vluginstink skop in. 3. Dit was moontlik dalk n koei met n wilde temperament. Mens kry dit by beeste ook, net soos by ander diere. By mense ook. Dis verstommend hoe sommige mense hul mening lug uit totale onkunde. Eet dan maar jou slaaitjies!

Karin ·

Mooi so, tannie Koei, hoop jy het ‘n lang en vreedsame (vreetsame) lewe. Ek eet nie meer beesvleis nie maar net omdat ek dit nie meer kan bekostig nie!

Dink Sommer ·

Hier is ‘n duidelike bewys van reinkarnasie – die arme tannie koei was voorheen ‘n menslike hy of sy – en het presies geweet wat met haar gaan gebeur. Geen koei is lief vir water nie wat nog van om te swem na ‘n eiland, in die modder rol ja maar swem nee. Sy verdien beslis ‘n Bell’s en ‘n lang rustige verdere lewe. So hoop net jy kom nie ook eendag terug as ‘n koei nie, want jy gaan dalk nie so ‘n gelukkige geleentheid kry nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.