Amelia Earhart se helm haal meer as R12 miljoen

Amelia Earhart met die vlieghelm (Foto: Heritage-afslaers)

ʼn Leer vlieghelm wat Amelia Earhart in 1928 op ʼn vlug oor die Atlantiese Oseaan gedra het, is vir $825 000 (sowat R12,6 miljoen) op ʼn veiling verkoop. Sy het die helm later in Cleveland tussen ʼn skare verloor.

ʼn Woordvoerder vir Heritage-afslaers sê ʼn anonieme koper het die hoogste aanbod ingedien tydens die aanlyn veiling wat Sondag gesluit het.

Die verkoper was Anthony Twiggs, ʼn 67-jarige man van Minnesota wat al jare lank gesukkel het om te bewys dat die leer helm wat hy van sy ma geërf het, werklik aan Earhart behoort het. Earhart was tydens ʼn vlug in Junie 1928 ʼn passasier toe sy die eerste vrou geword het aan boord ʼn vliegtuig wat die Atlantiese Oseaan oorgesteek het.

Foto’s voor en ná die vlug wys haar met die vlieghelm op haar kop.

Die vlugpionier het dieselfde helm die volgende jaar gedra tydens die Women’s National Air Derby, ʼn wedvlug vir vroue van Santa Monica, Kalifornië, na Cleveland. Duisende toeskouers het die bekende vlieënier gegroet toe sy met haar Lockheed Vega by die Cleveland-vliegveld aangekom het. Sy het die helm in die rumoer verloor.

Twiggs se ma, Ellie, was saam met ʼn groep van haar skoolmaats, een van die toeskouers, aldus ʼn storie wat Twiggs aan die New York Times vertel het. Ellie het aan haar gesin gesê ʼn seun, wat van haar hou, het gesê hy het Earhart se helm op die grond gesien lê, dit opgetel en vir haar gegee.

Die naam “A. Earhart” wat met ʼn swart pen geskryf is, is vandag nog sigbaar in die helm.

Die naam in die vlieghelm (Foto: Heritage-afslaers)

Twiggs het die helm geërf ná sy ma se afsterwe meer as 20 jaar gelede, maar hy het gesukkel om kenners te oortuig dat dit regtig aan Earhart behoort het. Earhart het in 1937 tydens ʼn vlug oor die Stille Oseaan verdwyn.

Hy was egter verlede jaar suksesvol toe hy foto-tegnologie kon gebruik om die egtheid van die helm te staaf. Dit is presies dieselfde een as wat in die foto’s uit 1928 gesien word, aldus Heritage-afslaers.

Earhart het in Mei 1932 haar eerste solovlug oor die Atlantiese Oseaan onderneem. Met hierdie vlug het sy ‘n nuwe transatlantiese rekord van 13 ure en 30 minute opgestel. Sy het ‘n medalje van die Amerikaanse president van dié tyd, Herbert Hoover, ontvang vir dié besonderse prestasie.

In Junie 1937 het sy haar begin voorberei vir haar “om die wêreldvlug” saam met Fred Noonam. Met die voltooiing van hierdie vlug sou sy die eerste vrou wees wat hierdie ontsaglike afstand met ‘n vliegtuig afgelê het.

Op 1 Julie 1937 het hierdie geskiedkundige vlug in Miami begin. Vandaar het hulle na Suid-Amerika gevlieg. Hier het hulle oor die Suid-Atlantiese Oseaan na Dakar in Afrika gevlieg. Nadat hulle oor die Sahara-woestyn is, het hulle na Singapoer gevlieg en vandaar na Australië. Nadat hulle egter van Lae in Nieu-Guinee opgestyg het, het die Amerikaanse Kuswag kontak met die vliegtuig verloor. Die laaste boodskap wat hulle van Earhart ontvang het, was op 2 Julie om 08:45. Daarna het hulle heeltemal kontak verloor en tot vandag toe weet niemand wat gebeur het nie.

Die Amerikaanse Vloot het uitgebreide soektogte van stapel gestuur, maar daar is nooit enige spoor van die vlieëniers of die vliegtuig gevind nie. Op 18 Julie 1937 het president Roosevelt al die soektogte afgelas en is daar aangeneem dat die vliegtuig in die see neergestort het.

Die geheimsinnige verdwyning van Amelia Earhart en haar medevlieënier het baie spekulasie tot gevolg gehad. Party mense beweer dat hulle deur die Japanners afgeskiet is en gevange geneem is; ander glo dat Roosevelt hulle op ‘n geheime spioenasiesending gestuur het. Nie een van hierdie teorieë kon egter ooit gestaaf word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.