Amerikaanse duif nou voortvlugtende in Australië

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Amerikaanse duif wat vermoedelik 14 480 km van sy tuiste afgedwaal het, het Donderdag ʼn voortvlugtende geword omdat hy Australië se streng kwarantynregulasies ontduik het.

Kevin Chelli-Bird het die uitgeteerde duif met ʼn enkelbandjie op 26 Desember in sy agtertuin in Melbourne aangetref.

Die duif, wat na aangewese Amerikaanse pres. Joe Biden vernoem is, het in Oktober tydens ʼn wedvlug vermis geraak en sy eienaar is intussen in Alabama opgespoor, berig Gulf News.

“Ons dink hy het tydens die wedvlug van koers afgedwaal en is oor die see geblaas waar hy op ʼn boot geland het,” het Chelli-Bird gesê.

“Miskien was hy moeg vir Donald Trump en het maar besluit om uit Amerika pad te gee.”

Toe die nuus oor Joe egter die owerhede bereik, het hy vinnig ʼn voortvlugtende geword omdat hy Australië se streng regulasies verontagsaam het.

“Aangesien die duif nie wettig voorberei is vir invoer nie, is sy gesondheidstatus en ander diere waarmee hy voor sy aankoms in Australië in aanraking was, onbekend,” het ʼn woordvoerder van die departement van landbou gesê.

“Dit hou ʼn regstreekse bioveiligheidsrisiko vir Australiese voëllewe en ons pluimveebedryf in. Die duif sal van kant gemaak moet word.”

Die nuusdekking wat Joe tot dusver ontvang het, sal hom waarskynlik ook nie red nie.

Die filmster Johnny Depp en sy eksvrou, Amber Heard, se honde wat nie as troeteldiere op hul immigrasiedokumente verklaar is nie, was ook onlangs in die moeilikheid.

Die voormalige Hollywood-paartjie kon egter hul Yorkshire-terriërs red deur hulle vinnig weer landuit te neem.

Joe se eienaar het egter nog nie na vore gekom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vrijburger ·

LMGA! Om ‘n duif na Biden te vernoem. Net soos sy naamgenoot die kluts heeltemal kwyt.

OW ·

Hierdie duif voldoen aan geen vereistes vir ‘n wedvlugduif nie.Hy het nie ‘n permanente ring aan nie met nommer en jaartal nie.Van sy tone is vermis wat dui op ‘n gebrek aan voedingstowwe.Sy bou en neusvrat lyk soos die van ‘n droster wat jy in die parke en stadspleine aantref.

Petrus ·

Glo nie die foto is van die die duif waaroor berig word nie. Staan daar “foto ter illustrasie” vanaf die Unsplash databasis. Moet seker ‘n besonderse duif wees om so lang reis te oorleef.

marius ·

Is hulle seker dis ‘n duif ? Nie dalk ‘n aasvoel nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.