Amerikaanse elk eindelik van buiteband bevry

Skermgreep uit ‘n video van Dan Jaynes

ʼn Amerikaanse elk wat minstens twee jaar lank in die Colorado-wildernis met ʼn buiteband om sy nek rondgeloop het, is uiteindelik bevry.

Die groot hert se vyfpunt-horings is afgesny ná die dier verdoof is, omdat hulle nie deur ʼn staalring in die band kon sny nie.

Die 270 kg elk is die afgelope paar jaar selde gesien. Dit is uiteindelik Saterdagaand opgemerk en natuurbewaarders kon hom suksesvol verdoof. Sy nek was in ʼn goeie toestand ondanks al die skawery.

“Die pels het bietjie afgeskaaf en daar was een klein oop wond, maar andersins was hy in ʼn goeie toestand,” het natuurbewaarder Scott Murdoch, een van die twee beamptes wat die band verwyder het, gesê.

Die elk was waarskynlik byna 16 kg ligter ná die horings, band, dennenaalde en vuilgoed om sy nek verwyder is.

Hy is vir die eerste keer in Julie 2019 opgemerk met die buiteband om sy nek. Die elk was in daardie stadium waarskynlik twee jaar oud. Hy het vermoedelik toe hy baie jonk was sy kop deur die buiteband gedruk – nog voor hy horings gehad het, of tydens die winter wanneer elke se horings afval.

Colorado Parks and Wildlife het in ʼn verklaring gesê natuurbewaarders sien gereeld bokke, herte, bere en ander diere wat in mensgemaakte voorwerpe verstrengel raak soos swaaie, hangmatte, wasgoeddrade, Kersfeesliggies, meubels, hokke, wasgoedmandjies, sokkerdoele, basketbaldoele en buitebande.

Die organisasie het benadruk dat hulle nie deur die staal in die buiteband kon sny nie, en daarom moes hulle die hert se horings verwyder. “Die dier was onder verdowing en daar was dus baie min tyd om die band te verwyder.”

Die elk se horings sal ook volgende jaar teruggroei en dit verminder ook die kans dat die bul hierdie jaar gejag sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

AW ·

Nou is rubber ring weg…. Wonder wat die metgesel te sê het oor die storie…

Misky ·

Shame, so bly vir hom en seker baie beter sonder die swaar aanhangsel. Sou graag die video wou sien nadat hy eerste keer wakker word en seker vooroor geval (ha ha ha – sien dit in my geestesoog) sonder die gewig waaraan hy seker al gewoond geraak het. Gelukkige einde ☺

Johan ·

Ek kan nie sien hoekom hulle nie die band kon deursaag met ‘n gewone ystersaag nie. Ek het dit al baie gedoen. Maar ja, ek is regtig bly die dier is bevry van die ongemaklike las.

Jack ·

Ek wonder hoeveel myle het daardie Elk op die band gesit. Dit sit nie in ELKeen se broek om op net een band vir twee jaar rond te ry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.