Baba wat soveel soos blikkie Coke weeg oorleef

Theo Taylor vandag (Foto: Facebook)

Theo Taylor van Brittanje in die Verenigde Koninkryk is op 26 weke gebore en het slegs 340 g (dieselfde as ʼn blikkie Coke) geweeg.

Theo was kleiner as verwag toe sy ma, Katie Rhodes (24), vir haar 19 weke-skandering gegaan het terwyl sy swanger was met hom. Hy het daarna totaal ophou groei en dokters het vir sy ouers gesê om die ergste te verwag, het die Daily Mail berig.

ʼn Beëindiging van die swangerskap is vir Katie beskikbaar gestel die dag voordat Theo gebore is, as gevolg van sy piepklein grootte. Katie het dit nie aanvaar nie, en klein Theo is op 15 Maart deur middel van ʼn keisersnit gebore. Theo was by geboorte kleiner as sy pa, Jay Taylor (27), se hand.

Katie en Jay kon net vinnig aan Theo se hand vat nadat hy gebore is, voordat hy weggeneem is om aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel te word.  Dokters het hulle gewaarsku dat Theo dalk nie lank genoeg gaan lewe om huis toe te kan gaan nie.

Maar klein Theo is, ten spyte van sy grootte, op 7 Julie toegelaat om huis toe te gaan ná ʼn operasie om ʼn breuk te herstel. Hy het toe sowat 3 kg geweeg.

Jay het gesê hy was bang toe hy Theo die eerste keer gesien het.

Theo Taylor (Foto: Facebook)

“Ek het nog nooit so ʼn klein baba gesien nie. Ek het nie geweet babas kan so klein wees nie!” het hy gesê.

Theo is nou amper ses maande oud en is die kleinste baba sedert Aaliyah Hart (wat ook 340 g by haar geboorte in 2003 geweeg het) in die Verenigde Koninkryk wat oorleef het.

Theo kry steeds nasale suurstof, maar dokters glo dat hy nie verdere probleme sal ondervind nie.

“Theo bewys almal verkeerd,” het Jay gesê. “Die dokters wat hom heel eerste gesien het, het hom weer onlangs gesien en hulle kan nie glo hoe goed dit met hom gaan nie,” het Jay gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Riana ·

Sjoe! Ons dien n Wonderlike Almagtige Hemelse Vader, Alle Eer aan HOM.

Gesiggie ·

By God is als moontlik, hierdie klein Engel kind is n bewys van God se skepping, geen Dr kan ooit die lewe van n mens bepaal, God is altyd in beheer en as Mamma en Pappa ook Glo en vertrou, kan en sal als goed gaan. Mag Theo vir jul nog soveel vreugde en geluk bring.. en is so dankbaar dat so n klein ou seuntjie nou al so mooi groot geword het en gesond is. Hy is n prag van n seuntjie

Nicci.doula ·

In Suid Afrika as ‘n baba gebore word voor 26 weke sonder om ‘n asemteug te gee, word daardie baba volgens wetgewing as mediese afval beskou en saam met geamputeerde ledemate en ander mediese afval verbrand. Lyk hierdie dingetjie op 26 weke soos mediese afval? Gee ouers die reg om hulle babas op ENIGE ouderdom te begrawe as hulle sou wou!!

MissDemeanor ·

Sulke klein babas se kans op oorlewing is bitter bitter bitter skraal. Ons lees net in die nuus van die babas wat wel oorleef het. Maar jy maak n fout as jy sê hul word summier weggegooi soos mediese afval. Ek ken self 2 gesinne wie babas gehad het op 23 weke en 24 weke. Beide babas het tekens getoon van ‘n kans op oorlewing. Beide babas is in die neonatal ICUs opgeneem. Een is nou 4 jaar oud. Die ander enetjie wat gestrem was agv van breinbeserings is dood op die ouderdom van 5. So jou bewerings dat hul net in die asblik gegooi word is ongegrond. Google ook maar die naam Allegra Lategan, nog n baba wat op 22 weke oorleef het. Maar die babas is uitsonderlike gevalle, die oorgrote meerderheid gaan dood selfs al word alles moontlik vir hulle gedoen.

Annonnie ·

@MissDemeanor Nicci.doula praat van kinders wat stilgebore word voor 28 weke. In ons land mag jy nie begrawe word sonder doodsertifikaat. En geen doodsertifikaat sonder geboortesertifikaat. En geen geboortesertifikaat by stilgebore babas (voor 28 weke)!

SNEL ·

Gesiggie, ek lees nie dat die ouers gelowig is of gebid het nie. Om te dink mense in ander lande is gelowig is so ver van die waarheid, dis net nie eers waar nie. Stem saam met wat jy sê van ouers wat gelowig is, so baie krag in gebed en om saam te staan in geloof. God laat tog dinge ook gebeur soos Hy wil. Hy het n doel en plan met elkeen se lewe, of die ouers glo of nie, daardie kleintjie is met n doel daar.

Pvt ·

Die mannetjie se gesig se vir my hy gaan die wereld aan pak en groot sukses behaal

Anni ·

Die klein snip se gesiggie op die eerste foto het die “kyk” van: “Nou toe, lees ‘n bietjie hier, en ek is nog steeds hier.

Robert ·

My 2 ling seuns is op 30 weke gebore en die een is ‘n kwadrupleeg agv die feit dat die mediese navorsing nog nie daar was om sekere behandeling in die baarmoeder toe te pas nie (niemand se skuld nie). Vandag is dit moontlik om die mensies van 22 weke deur te trek agv groot spronge in die mediese navorsing.

Johann cb ·

Wat ‘n oulike kêreltjie met ‘n pragtige glimlag! Sterkte Theo, jy is ‘n klein vegter!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.