Baba word regstreeks op radio gebore

Cassiday Proctor (Foto: radiocassiday, Instagram)

Talle vroue werk nog tot die dag wat hulle geboorte gaan skenk, maar Cassiday Proctor, ʼn omroeper van ʼn oggendprogram, het regstreeks op die radio geboorte geskenk.

Moenie bekommerd wees nie – daar was darem nie enige gille van die ma nie, baba Jameson is Dinsdag met ʼn keisersnee gebore en luisteraars kon ook sy eerste geluidjies geniet.

Scott Roddy, vervaardiger van die program op 106.5 The Arch, wat in St Louis in Missouri, Illinois uitsaai, het gesê Proctor was Maandag nog by die werk toe sy kraampyne begin ervaar het. Jameson was egter ʼn brugbaba en moes dus met ʼn keisersnee gebore word.

Spencer’s Neighborhood, die program waar Proctor uitsaai, het dadelik planne begin beraam en met die hospitaal gereël dat die verpleegsters ʼn selfoon in die teater sou neem tydens die prosedure.

Baba Jameson is om 07:45, reg in die middel van die oggendprogram, gebore en het 3.4 kg geweeg.

“Ek was baie tevrede met daardie tydsberekening!” lag Roddy.

Hy voeg by Proctor het nie ʼn oomblik gehuiwer om die geboorte van haar eerste kind met die luisteraars te deel nie: “Sy deel alles, dis wie sy is.”

Proctor se man is ook ʼn “bok vir sports”. Hy het ook toestemming gegee dat die geboorte regstreeks uitgesaai mag word en het vroeër selfs ingestem dat die luisteraars van Spencer’s Neighborhood die seuntjie se naam kon gee!

“Ons het ʼn kompetisie vir die luisteraars gehou waar 12 lawwe name, en 12 name wat deur die egpaar gekies is, almal om die wenner meegeding het,” verduidelik Roddy. “Gelukkig het die luisteraars nie ʼn lawwe keuse gemaak nie. “Hulle het bly stem totdat ons uiteindelik by Jameson uitgekom het!”

Jy kan hier na die klankgreep luister van baba Jameson se geboorte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nou toe nou ·

Nou nie om snaaks te wees nie, maar mens kan sien daar is nie vreeslik baie “entertainment” in daardie geweste nie.

Maggie ·

Kyk,as sy natuurlik geboorte geskenk het sonder enige pynmedikasie sou sy verseker nie so gretig gewees het om dit uit te saai nie.

Emma ·

Ag asseblief wat nou nog, genoeg van vrouens wat met hul mae spog en nou dit ook.

Luister ·

Ai, die suurknolle darem.
Dit is tog ‘n nuutjie vir radio.
Ek deel veel eerder in goeie nuus van ‘n nuwe
baba; as al die moord en doodslag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.