Babapoeier – toormiddel vir in en om die huis!

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Volgens die Facebook-blad, Huisvrou se kreatiwiteit, is babapoeier nie net vir babas nie, en kan vir ʼn verskeidenheid van dinge gebruik word. Laat weet gerus as jy een van dié gebruike al getoets het!

• Koel lakens: Op warm somersnagte, sprinkel babapoeier oor die lakens om hulle heerlik koel te hou. Die poeier sal enige sweet absorbeer, wat vir ’n verfrissende nag se slaap sal sorg.

• Vars lakens: Elke keer wanneer jy skoon lakens op jou bed sit, sprinkel babapoeier vir ’n heerlike vars reuk.

• Krakende houtvloere: Strooi babapoeier op die houtvloere en vee dit dan met ’n besem in die nate in.

• Absorbeer oliekolle op klere: Sprinkel babapoeier op die olie, en klad die kol uit. Herhaal totdat kol uit is, borsel elke keer oortollige babapoeier af.

• Voorkom geel vlekke aan onderarmholtes van wit hemde: Nadat jy ’n nuwe hemp gekoop het, sprinkel babapoeier op hemp se onderarmdele en stryk dit met ’n strykyster in die hemp in. Dit sal voorkom dat olie en sweet in die materiaal intrek en dit geel vlek.

• Vars matte: Sprinkel babapoeier op jou matte voordat jy dit stofsuig. Dit sal die matte heerlik vars laat ruik.

• Bedompige skoene: Wanneer jou skoene nie op hul beste ruik nie, gooi babapoeier mildelik in die binnekant, laat oornag staan en skud die volgende oggend die poeier uit.

• Rubberhandskoene: Gooi babapoeier in om dit maklik aan en uit te trek.

• Geknoopte ketting, skoenlus of tou: Sprinkel babapoeier op die knoop en dit sal maklik loskom.

• Sykouse aantrek: Sprinkel ’n bietjie babapoeier oor jou bene om die aantrek van sykouse te vergemaklik.

• Speelkaarte: Voorkom dat ’n pak speelkaarte aan mekaar kleef. Gooi kaarte in ’n plastieksakkie, gooi babapoeier by en skud goed. Stof die oortollige poeier af, en jou kaarte sal so goed soos nuut wees.

• Ou boeke: Verfris ou boeke wat jy by ’n uitverkoping opgeraap het, deur babapoeier tussen die blaaie te sprinkel. Laat staan die boeke so ’n dag of twee en skud dan die poeier uit. Die poeier absorbeer enige vogtigheid en raak ontslae van muwwe reuke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Bets Bothma ·

Behalwe dat ek elke aand babapoeier gebruik op my lyf as ek klaar gebad het, gebruik en dit in my skoene/kouse as ek stap, voorkom wrywing, strooi dit waar miere is – hul verdwyn voor die son, vuil olierige hare as jy nie tyd kry om te was nie, in plastiekhandskoene – en natuurlik vir my kleinkinders – niks so wonderlike as n baba wat na poeier ruik nie!

Chester Bosch ·

Ek gebruik babapoeier al vir baie jare om miere in en om die huis te beheer. Ek strooi dit ook in die tuin. Dit is baie effektief.

Sarie ·

As jy las het met vlermuise in jou plafon, strooi babapoeier binne plafon. Hulle hou nie van die reuk nie en jy sal in ñ kits ontslae wees van dié verpestelike goed. Glo my, dit wérk!

E.K. ·

Ag nee man Sarie, vlermuise doen WONDERLIKE werk! Weet jy hoe baie muskiete vang net EEN vlermuis per nag? Okay minstens maak jy hul nie dood en verdryf hul net, maar by ons is hulle baie welkom!

Danie ·

Ons strooi babapoeier op ons voete nadat ons op die strand gestap het. Die sand kom dan heeltemal af.

Stefanie ·

As jy sukkel met miere, gooi net babapoeier, hulle loop draaie om dit. Hierdie het ek gedoen toe ek ‘skelm’ gerook het… draai die houer oop, hou regop en druk sodat daar so wolkie uitkom, net so paar drukke laat jou vertrek heerlik vars…

Nicoline ·

As jy ligte kleur hare het, en nie lus vir hare was die dag…Strooi bietjie baba poeier op jou hare en kam dit goed deur… verbasend lyk of jou hare nou net gewas is… en ruik sommer lekker ook

BoereBikerBaby ·

Babapoeier help met baba se gebrande boutjies, wanneer jy droogmaak, smeer die “bum cream” op en dan poeier bo-oor.

Waarvoor babapoeier ook goed is, is om vismotte weg te hou- baie beter as daai motbolle wat so stink. (my ouma se huis het altyd na dit geruik lol)

CF ·

Strooi baba poeier op jou gang se vloer,dan kan jy sien watter (spooke) in jou huis rondloop.

christine ·

Gee die kruipende goed asma dis wat gebeur. Gooi op my honde vlooi se kind oorleef nie. Ja reg gelees ASMA

tilly breed ·

Ek het las van miertjies in my katte se kosbakke. Die katte sit nie hulle bekke daaraan as daar miere in is nie. Dan moet hy dit weggooi.
Ek gooi babapoeier om die katbakke en geen miere dan meer nie. Dit spaar my baie katkos.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.