Babapoppe vir Alzheimer-pasiënte is ʼn groot sukses

Foto: Pearl’s Memory Babies/Facebook

Sandy Cambron van Kentucky in die VSA het 15 jaar gelede gesien haar skoonma, Pearl Walker, raak al hoe meer afgetrokke en stil ná sy in ʼn versorgingsoord vir Alzheimer-pasiënte ingetrek het.

“Ons het alles probeer, fotoalbums, ou stories, maar niks het gewerk nie,” het sy gesê. “Dit was regtig moeilik vir almal om te sien hoe sy verander het.”

Terwyl Cambron een dag in ʼn speelgoedwinkel was, het sy die idee gehad om vir Pearl ʼn babapop te koop wat sy kon “versorg”. En toe besluit om sommer vir al die inwoners by die versorgingsoord te bederf met só pop.

Die plan het gewerk. Toe Cambron vir Pearl die pop, toegedraai in ʼn sagte pienk kombersie, gegee het, het haar ma se gesig sommer opgehelder. “Sy het weer begin praat en sy het nêrens heen gegaan sonder daardie baba nie. Sy het die ‘baba’ saamgevat eetkamer toe, en selfs in die aand met haar in haar arms geslaap. Toe sy ʼn jaar later oorlede is, het ons haar saam met die pop begrawe.”

Cambron en haar man, Wayne Cambron, het die volgende 10 jaar lank talle poppe aangeskaf en dit, ter nagedagtenis aan Pearl, tydens Kersfees en ander spesiale geleenthede aan inwoners by versorgingsoorde in die omgewing uitgedeel.

Pearl se “Memory Babies” is nou ʼn niewinsgewende organisasie wat sedert Februarie 2018 reeds meer as 300 poppe aan persone met Alzheimer se siekte of demensie uitgedeel het.

ʼn Valentynsdagfoto van bejaardes wat reageer op die poppe wat hulle ontvang het, het wyd op sosiale media versprei.

“En net so, het ons ʼn nuwe stokperdjie gehad,” sê Cambron. “Dis ʼn eenvoudige idee, maar dit werk! Sommige persone huil as mens die baba vir hulle gee. En al weet ons nie presies wat hulle dink nie, kan mens sien die pop het beslis gehelp om ʼn goeie herinnering te herroep.”

Sayre Christian Village het hierdie video gedeel van die dag toe hul seniors met hul babapoppe bederf is:

Therapy Doll 'Delivery Day'

(????☝) Simple gifts, like these baby dolls, bring our elders joy. Our respect, attention, time and our kindness are other simple gifts we should offer them, every chance we get. ❤️???? Help us reach more in need – please share this post. ???? Thank you, Pearl's Memory Babies.

Posted by Sayre Christian Village on Saturday, June 15, 2019

Klik hier as die video nie direk in jou webblaaier wil speel nie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Maria ·

My trane rol wens sal ook in SA plaasvind.
Dankie julle is engel
wow!

Papa G ·

Ek het ook trane in my oë. Laat elk van ons opreg dankbaar wees as ons nog kan onthou, dink, redeneer en verstaan. Ek sien al hoe minder dankbaarheid om my heen. Dankie sê vir die klein en eenvoudige dingetjies ontbreek. Wat oorbly is ‘n gemor, kerm en teem oor die regering, my munisipaliteit, politiek, taxi’s… Dalk het die meeste mense net te veel aardse skatte bymekaargemaak.

Lindie ·

Watter mooi gebaar – noem my dom of lees ek dit net nie raak nie, maar sal dit vir mans ook werk?

Anoniem ·

‘n Rukkie gelede gaan besoek ons ‘n tannie wat al ver heen is met Alzheimers. Sy herken nie meer haar seuns nie. Op ‘n goeie dag herken sy darem nog haar enigste dogter. Dit was ‘n moeilike kuier, want sy kan nie rêrig terug gesels nie. Sy begin ‘n sin huiwerig, en dan rafel haar gedagte uit… Die enigste volsin wat sy daardie dag met my gepraat het, was oor haar “babas” wat hier by haar op die kussing teen haar wang lê en slaap – haar stem was toe weer sterk, en vol liefde.

Connie Georgiou ·

Anoniem Dalk moet julle vir haar a pop koop en sien hoe sy reageer.. My ma het my ook nie herken nie en heeldag gospel liedjies gesing.

Cora Simpson ·

Oe ek het darem nou sooo lekker gehuil, want ek is ook in my sonsak jare en se net “There but for the Grace of God goes I”

Ruby ·

Wat ‘n wonderlike idee!

Dit kan uitgebrei word na hondjies of katte ook.

Hulle kan dan self kies, ag jinne dis fantasties.

Anoniem ·

Ruby, ek het ook eers gedink ‘n diertjie.. maar dalk is poppe maar beter, want sê nou hulle vergeet om die diertjies kos en water te gee? Dalk moet ons klomp so beweging in SA aan die gang kry om dit vir Alzheimers, en miskien ook Dementia? pasiënte te begin doen?

Rina ·

Sjoe, wat ‘n pragtige storie. Wonderlike gebaar aan die ou mensies. Hierdie moet mens onthou om ook vir ons eie oumas, moeders en vriende te doen wanneer oudword die gedagtes en onthou begin uitwis. So mooi!

Susan ·

My ma het Alzeimers en ek versorg haar self 24 uur per dag. Sommige dae is baie erg. Ons het honde en ‘n kat. Soms lê hulle op haar skoot en sal sy hulle vryf maar soms soos gister as sy moeilik is word hul weggeklap. Het nog nie die pop probeer nie. Weet dat hul die poppe met groot sukses doen. Ek het wel al die houer met vorm blokkies ook vir haar gegee. Maar sy raak so frustreerd as sy nie die blokkies in die regte gaatjies kry nie dat sy dit eenvoudig eenkant toe gooi. Dis baie moeilik om iets te kry wat haar besig kan hou sonder om haar te frustreer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.