Babas ‘werk’ nou by ouetehuis

Argieffoto (Foto: Sebastian/Pixabay)

ʼn Ouetehuis in Japan “huur” babas vir ʼn baie belangrike werk – om sy bejaarde inwoners geselskap te hou en hulle te laat glimlag. Die salaris? Doeke en poeiermelk.

Nuwe rekrute by die fasiliteit in Kitakyushu moet jonger as vier jaar oud wees en hul voogde moet ʼn kontrak onderteken wat bepaal dat die babas en kleuters “wanneer hulle ook al lus het daarvoor” vir die werk kan opdaag.

Hulle is ook welkom om enige tyd ʼn breek te vat “wanneer hulle honger is, wil slaap, of wanneer hulle in die luim is daarvoor”.

Meer as 30 babas het reeds aangemeld en sal die gemoedere verlig van die meer as 100 inwoners, hoofsaaklik in hul 80’s, sê Kimie Gondo, hoof van die tehuis.

“Net om na babas te kyk laat ons inwoners glimlag,” het sy aan AFP gesê. Sy skerts “daar is nie ʼn spesifieke skofrooster nie”.

ʼn Advertensie vir die vakante poste op die muur by die fasiliteit lui: “Vakante poste!” in groot letters en laat weet voornemende werkers dat hulle met doeke en poeiermelk vergoed sal word.

Suksesvolle kandidate se grootste – en waarskynlik enigste – verantwoordelikheid, is om by die ouetehuis rond te stap, vergesel deur hul voogde.

“Die babas is deurgaans saam met hul ma’s. Dis asof hulle net vir ʼn stappie in ʼn park geneem word,” voeg Gondo by.

Die inwoners is verheug oor die nuwe personeellede en knoop graag geselsies aan of gee hulle drukkies.

“Hulle is só oulik. Dit laat my dink aan toe ek ʼn ouer was,” het een inwoner aan ʼn plaaslike televisiestasie gesê.

Tot dusver het die projek uitstekende resultate opgelewer, sê Gondo. “Sommige van die kinders kom baie goed oor die weg met ons inwoners. Dis nou soos regte oumas en oupas saam met hul kleinkinders.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wolkie ·

dis ‘n baie goeie idee. ou mensies kan weer “happy”voel!

Sheree ·

Dit is nou een van die oulikste idees wat ek nog gelees het!

Wielspore ·

My skoonma is in ‘n rehab sentrum nadat sy haar heup ‘n vervanging gehad het en ek het met een besoek aan haar ons kleinseun saam geneem. Ons het om ‘n tafel gesit met ander ouer dames teenwoordig en dit was wonderlik om te sien watse positiewe impak dit op die oumense gehad het. Die een Oom het in sy stoel gesit en slaap en toe hy die jong stem hoor het hy wakker geword en nie weer geslaap. Hou die familie bande sterk, van oud tot jonk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.