Barbie-pop nou deel van vinknes

(Foto: Richard van Schalkwyk)

Toe Richard van Schalkwyk een Saterdagoggend ʼn Barbie-pop in ʼn vinknes gewaar, het hy geweet hy moet die kamera nadertrek en dié seldsame verskynsel met foto’s verewig. Dié foto’s het sedertdien soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei.

Van Schalkwyk het Donderdag aan Maroela Media gesê hy het by sy dogter in Fourways, Johannesburg, gekuier toe hy die Barbie-pop in die boom raaksien.

“Ons was by my dogter se huis en ek het toevallig die pop en die nes in die boom raakgesien,” het Van Schalkwyk vertel. “Volgens my dogter het my kleinseun ʼn ruk gelede die Barbie-pop op die dak gegooi en dit het in die geut bly lê.”

Van Schalkwyk het gesê ʼn vink het toe die pop as boumateriaal vir sy nes aangesien. “Ek skat die geut en die nes is omtrent ewe hoog.”

Volgens Van Schalkwyk het daar nog net een persoon van wie hy weet gesê die foto’s lyk vervals. “Kyk, as ek die foto’s op sosiale media gesien het sonder enige agtergrond, en met al die valse nuus wat deesdae versprei word, sou ek ook gedink het dit is vals.”

Hy sê egter hy het doodseker gemaak sy kleinseun het nie die pop in die nes geplant nie. “Ek het gewis ook nie die Barbie-pop daar geplant nie,” het Van Schalkwyk gelag.

Van Schalkwyk is ook ʼn videograaf wat graag musiekvideo’s vervaardig.

(Foto: Richard van Schalkwyk)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Amber ·

Ken jy vir wyfie-vink? As sy nie tevrede is met daai nes nie, plunder sy hom daar en dan uitmekaar. Arme Barbie pop. Sy is behoorlik hoog in die takke. Welgedaan vir die skerp oog van die fotograaf.

Roelof ·

Dis nou ‘n ander manier om ‘n pop van die dak af te kry

Glimlag ·

Dis seker ‘n ingenieur-voëltjie wat die barbie pop dààr kon vas weef. Dit moes nie maklik wees nie, met die gewig van die pop in vergelyking met die lyfie van die vink.. Ek hoop die wyfie waardeer die poging.

Adri ·

Die vink gebruik seker die pop as voëlverskrikker om ander voëls weg te hou van die nuwe vink babas!

wielie ·

Te pragtig! Wonder net of daardie klein vinkie ook gym to gaan – so poppie is seker swaar vir vink lyfie? Mevrou vink spog met unieke huis in die boom!

Jankees ·

Of die bedoeling was om die vinknes met die pop te gooi, en toe het die se hare in tak vasgehaak.

Ou Gaafste ·

As my vrou nou ‘n vink was sou sy nou nie happy gewees het nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.