Beeste geleer hoe om ʼn ‘MooLoo’ te gebruik

Argieffoto (Foto: Christoffer Borg Mattisson/Pixabay)

Net soos wat babas geleer word om die potjie te gebruik, kan beeste ook geleer word om ʼn spesiale hokkie te gebruik om sodoende kweekhuisgas-uitlating te verminder.

In ʼn studie, wat in Duitsland gedoen is, het wetenskaplikes die diere opgelei om ʼn toegewyde hokkie te gebruik. Hul urine is daarna versamel en behandel.

Die ammonia van die beeste se urine verander in ʼn kweekhuisgas-stikstofoksied wanneer die met grond in aanraking kom.

Navorsers het gepoog om 16 beeste te leer hoe om ʼn toilet, genaamd die “MooLoo”, te gebruik op ʼn plaas wat aan die Navorsingsinstituut vir Plaasdierbiologie behoort.

Die diere is in die MooLoo-hokkie geplaas en is beloon met kos wanneer hulle geürineer het. Hulle is daarna in ʼn gebied langs die MooLoo geplaas en ook beloon wanneer hulle in die hokkie gaan urineer het.

Jan Langbein, mede-outeur en dieresielkundige aan die navorsingsinstituut, sê daar is ʼn algemene opvatting dat beeste nie in staat is om urinering of ontlasting te beheer nie. “Beeste, net soos baie ander diere of plaasdiere, is egter baie slim en hulle kan baie leer.”

Langbein hoop dat “alle beeste oor ʼn paar jaar ʼn toilet sal gebruik”. Die bevindings is in die joernaal Current Biology gepubliseer.

Lees meer: USNews, Farming Independent, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.