Bejaardes beloof trou tussen winkelrakke

Brenda Williams en Dennis Delgado op hul troudag. (Foto: Skerkgreep/FoxNews10/YouTube)

Waar die meeste paartjies deesdae kies om hul troues by duur of eksotiese venues te hou, het ʼn bejaarde paar van Arizona in die VSA ʼn ietwat minder tradisionele opset gekies.

Brenda Williams (72) en Dennis Delgado (78) het onlangs trou aan mekaar beloof op die presiese plek waar hulle mekaar ʼn jaar tevore ontmoet het; in ʼn kruiedenierswinkel, voor die sous-afdeling.

Dié twee het mekaar in Augustus 2021 by Fry’s Food and Drug Store in Casa Grande ontmoet toe Williams ʼn botteltjie Miracle Whip en Delgado ʼn potjie mayonnaise gekoop het.

Williams het vertel dat Delgado dadelik met haar ʼn geselsie aangeknoop het en haar hart met sy humorsin gewen het. “Hy het ʼn grappie gemaak oor die feit dat ʼn mens danksy maskers ander kan beledig en hulle jou nie mooi gaan hoor nie. Toe is die koeël deur die kerk.”

Die paartjie se vriende en familie het saam die groot dag kom vier. (Foto: Skerkgreep/FoxNews10/YouTube)

Die twee het telefoonnommers uitgeruil en Delgado het kort daarna saam met Williams by haar plaaslike kerk vir die Sondagdiens aangesluit. Die paar het dadelik by mekaar aanklank gevind. Albei het ook hul eerste eggenotes kort na mekaar aan die dood afgestaan.

Hulle het in April vanjaar verloof geraak, óók op daardie selfde plek tussen die winkelrakke.

Toe daar na venues gekyk is, was die kruidenierswinkel volgens Williams en Delgado hul enigste keuse, en gelukkig het die Fry-winkelbestuur ingestem.

“Ek is oud, hy is oud, so ons het nie meer baie jare wat vir ons voorlê nie. Ons besluit toe om iets simpels en prettig te doen. Kom ons gaan uit met ʼn bang,” het Williams oor haar en Delgado se besluit gesê.

Sy hoop haar en Delgado se verhaal gee ander mense hoop dat liefde “net om die draai kan wees”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Dis nou spesiaal! Mag julle nog baie gelukkige jare saam hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.