Bere steel sy heuning, toe word hulle sy fynproewers

Ibrahim Sedef (Foto: DHA)

Bere is dol oor heuning en hulle sal gewoonlik enigiets doen om bietjie heuning in die hande te kry. Hulle is egter nie baie welkom op byeboere se plase nie, omdat hulle soms groot skade aanrig.

Een byeboer van Turkye, Ibrahim Sedef, het ook gereeld deurgeloop onder skade wat die bere in die omgewing aangerig het.

Dié landbouingenieur het aanvanklik sy bye probeer beskerm met metaalhokke en selfs kos vir die bere gelos soos brood, vrugte en heuning, maar die bere het steeds sy korwe beskadig, berig DHA. Sedef het uiteindelik kringtelevisiekameras in die omgewing versteek om hul gedrag dop te hou. Dis tóé dat hy met ʼn blink plan vorendag gekom het.

Sedef het besluit om die bere te gebruik om sy heuning te toets, omdat hulle klaarblyklik reeds fynproewers is. Hy het vier verskillende tipes heuning op ʼn tafel neergesit waarvan die bere kon eet. Hy was nie teleurgesteld met die uitslag nie: die bere het blykbaar baie duur smaak!

Sedef het aan DHA gesê die bere is gelok deur die reuk van die Anzer-heuning, omdat hulle altyd eerste daaraan geproe het – en soms het hulle nie eers aan die kersiebloeiselheuning geraak nie!

Ongeveer 900 g van dié Turkse heuning, Anzer, word teen ongeveer $300 (sowat R4 600) verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Beertjies ·

Hulle is mooier, slimmer en het beslis beter tafel maniere as sekeres hier. Hulle kan net nie so goed inbreek nie.

Beerman ·

Bere is agter die bye larwes aan, nie heuning nie. Hulle eet maar per ongeluk heuning terwyl hulle die larwes eet. Bere wat mal is oor heuning is fopnuus.

Winnie ·

Kan nie wees nie Beerman, winnie in “winnie the pooh” hou dan van heuning !

Pieterd ·

Nie waar nie Beerman. Bere se hoofdis is natuurlik vet en vleis, vis (salm), insekte (insluitend bye en larwes), bessies, plante, ens. maar hulle IS beslis lief vir heuning ook en eet dit nie “per ongeluk” nie.

Beerman ·

Bere eet heuning, ja, maar dit is nie hoekom hulle bye korwe oop breek opsoek na kos nie. Jy is reg, ‘n beer eet enige iets, van tandepaste tot mens se stoelgang. Ek bly in Amerika, en ek skiet bere met met skade permit as hulle nie gevang kan word nie. Het al baie bye ouens gehelp, en eerste hands die skade gesien. In ‘n kommersiele korf eet hulle die larwes van korf tot korf terwyl die heuning oorgesien word.

Niel ·

dan is hulle kieskeurig oor die heuning. soos die video ook gewys het.

B ·

So bere en mense se smaak / reuk ens is vergelykbaar en onderling uitruilbaar? Dink nie alle ‘landbou-ingenieurs’ (of mense wat bietjie verder dink oor dinge, ook genoem ‘common-sense’) gaan noodwendig met jou saam stem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.