Besoek die grootste modeltrein-uitstalling vanuit jou huis

Miniatur Wunderland; die wêreld se grootste modeltrein-uitstalling (Foto: Google)

Die wêreld se grootste modeltrein-uitstalling in Hamburg in Duitsland – een van die wêreld se gewildste toeriste-aantreklikhede – lok jaarliks meer as een miljoen toeriste na dié stad. Nou maak Google dit vir diegene met dunner beursies ook moontlik om dié miniatuur-uitstalling te beleef.

Luidens ʼn verklaring het Google dit pas vir enigeen met wanderlust moontlik gemaak om Hamburg se befaamde Miniatur Wunderland, soos die modeltrein-uitstalling bekend staan, via Google Street View te besoek.

Die modeltrein-uitstalling is sowat 13 000 m2 groot en spog met meer as 200 000 miniatuur-“inwoners”, replikas van verskeie Duitse dorpe, ʼn “funksionerende” lughawe, ʼn boeremark en selfs ʼn brandweerstasie.

Miniatur Wunderland; die wêreld se grootste modeltrein-uitstalling (Foto: Google)

Dié model is boonop interaktief gebou: “Besoekers” aan die uitstalling kan onder meer sien hoe miniatuur-mannetjies ʼn brand by een van die geboue blus, hoe ʼn vliegtuig die aanloopbaan verlaat en dan opstyg, en hoe polisiebeamptes spoedvrate van die pad af trek.

Die modeltrein-uitstalling spog verder met ʼn sokkerwedstryd in die Hamburg-stadion, ʼn replika van die bekende Neuschwanstein-kasteel in Bavaria in die suidooste van dié land én die ski-hange van Oostenryk.

Besoekers sal egter nie net Duitse toeriste-aantreklikhede raakloop nie: Jy kan ook vinnig besoek aflê aan Las Vegas, die Grand Canyon in die Amerikaanse deelstaat Arizona en stop vir padkos by Mount Rushmore, waar jy eer kan betoon aan voormalige Amerikaanse presidente.

Miniatur Wunderland; die wêreld se grootste modeltrein-uitstalling (Foto: Google)

Google meen Street View maak ʼn besoek aan Miniatur Wunderland selfs meer opwindend as vir mense wat die museum in persoon besoek, aangesien jy alles in detail kan sien. Jy sien onder meer deur die oë van diepseeduikers en kan van naby na ʼn “pasgetroude paartjie” kyk wat op die trap van die kapel staan en vir hul gaste waai.

Om dié besoek moontlik te maak het Google kragte gesnoer met Ubilabs, ʼn Duitse maatskappy wat interaktiewe padkaarte ontwerp. Die maatskappye het saam miniatuur-kameratjies ontwerp wat geplaas is op sommige van die motors, treine en persone in die museum se modeltrein-uitstalling, wat dit dan moontlik maak vir die “besoeker” om via Street View ʼn gedetailleerde blik van die uitstalling te verkry.

Vir meer inligting oor hoe om dié dorpie te besoek, besoek Google hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.