Bruid ontstoke: Slegs 7 mense sê ‘ja’

Argieffoto (Foto: Marc A. Sporys / Unsplash)

Sara, ʼn voornemende bruid in die VSA, het in ʼn plasing op Facebook gekla dat sy 141 mense vir haar bestemmingstroue uitgenooi het, maar slegs sewe mense het bevestig dat hulle die geleentheid sal bywoon.

Sy het in die plasing gekla dat vriende en familielede gekies het om nie haar troue by te woon nie.

“Ek gaan dalk nou selfgeregtig klink, maar ek moet vandag my sê sê. Toe ons ons vriende en familie na ʼn bestemmingstroue in Thailand uitgenooi het, het slegs nege mense laat weet dat hulle dit gaan bywoon. Uit 150 uitnodigings! Oukei, ek verstaan, dit is vir sommige van julle te duur om $3 000 (meer as R57 000) te betaal om my spesiale dag saam met my te vier. Ek sou dit vir julle betaal het, maar wat ook al.”

Sy sê hulle het daarna besluit om die bestemming na Hawaii te verander, sodat dit binne elkeen se bereik kon wees. Maar toe het slegs sewe gaste ingestem.

“Dit is goedkoper, maar nou wil minder van julle kom? Is dit wat julle van my dink? Kan julle nie eers $2 000 (sowat R38 000) uithaal om in my geluk te kom deel nie?”

Sy voeg by: “Ek is lus en loop weg om iewers te gaan trou sodat nie een van julle deel kan wees van ons gelukkigste dag nie. Dis dit. Ek gee julle drie dae om te reageer op ons uitnodigings of ons verwyder julle vriendskap van Facebook en sterkte om dan op hoogte te bly met ons lewens.”

Sy betreur ook die feit dat slegs die “goedkoop geskenke” op haar geskenkelys gekoop is.

“Ek het regtig gedink ons het beter vriende. Ek en my man vra julle om te heroorweeg.”

Gebruikers was glad nie beïndruk met haar houding nie.

“Om vriendskappe te oordeel volgens die bedrag geld wat iemand aan jou spandeer is uiters laag. Ek wonder of hierdie vrou een ware vriendin het. Meeste mense gryns dalk net as sy haar selfgeregtigde stories vertel,” skryf een persoon.

“Verstaan sy nie dat mense wat werk en kinders het glad nie duisende aan iemand anders se troue wil spandeer nie?” wil nog iemand weet.

“As ek haar vriendin was, sou ek haar die moeite gespaar het en myself as vriend op Facebook verwyder het,” skryf nog iemand.

Dit kom ná ʼn bruid van Kanada haar troue gekanselleer het toe ʼn aantal gaste geweier het om ʼn buitensporige bedrag by te dra vir haar “eksklusiewe dag”. Dié vrou het CAD1 500 (meer as R21 000) van elkeen van haar gaste geëis in plaas van ʼn geskenk. Toe meeste mense geweier het om dié bedrag te betaal, het sy besluit om die hele troue te kanselleer.

“Liewe vriende, ek moet ongelukkig aankondig dat die troue gekanselleer is. Ek is jammer dat die troue net vier dae voor die tyd gekanselleer word. Ongelukkig het ek en [haar verloofde] se verhouding tot ʼn einde gekom weens onlangse en onherstelbare probleme. Ons het besluit om die verhouding te beëindig en nie voort te gaan met enige toekomsplanne nie.”

Sy het toe die gaste blameer vir die kansellasie.

“Ek het spesifiek gevra vir kontantgeskenke. Hoe kan ons ons droomtroue hê sonder behoorlike fondse? Ons het soveel opgeoffer en het elke gas vir slegs CAD1 500 gevra. My strooimeisie het onderneem om CAD5 000 te gee saam met haar troureëlingsdienste. Ons het vir haar dankie gesê en dit aanvaar. My eks se familie het aangebied om CAD3 000 by te dra. Ons versoek vir CAD1 500 was dus glad nie buitengewoon nie. Ons het dit duidelik gemaak: As jy nie ʼn bydrae kan lewer nie, is jy nie uitgenooi na ons eksklusiewe troue nie. Dit is ʼn eens-in-ʼn-leeftyd partytjie. Ná ons die uitnodigings uitgestuur het, het slegs agt gaste laat weet hulle sal dit bywoon met hul tjeks van CAD1 500. Ons was absoluut ontstoke.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Sandra ·

Kyk, die antie sal vinnig moet afkom aarde toe, Die wêreld draai nie om haar nie

Annelize ·

Ek lees die berig en wat my opval is “ek ek ek ek” en “my my my my”. Trou net sy, met haarself? En dan raak sy nog ongeskik en demanding.
Wie kan sulke kostes aangaan in vandag se lewe vir ‘n troue? Nee wat sussie, as jy so graag in die verre vreemde wil trou, en dan boonop wil tantrum soos ‘n stout kleuter as mense nie sulke buitensporige koste aangaan nie, dan moet dit maar net jy en jou aanstaande wees. Oorgrootte meerderheid van mense moet maar hulle sente 3 na 4 keer omdraai in vandag se omstandighede.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek kry die bruidegom jammer. Hardloop weg. Vinnig en vêr.

Diepoppie ·

Ek en my man het twee jaar gespaar vir ons troue. Ons het net 40 mense genooi, almal het ja gese. Die oggend van die troue het halfte gekanseleer.. Nou ons het in die ooskaap gebly en ons troue in pta gehou omdat dit naby vir ons families was. Alles het verkeurd geloop daai dag(dit het vreeslik gereen saam dit!). Maar ekt net die beste van dit gemaak en as ek terug kyk na die foto’s is ek dankbaar die belangrikste mense was wel daai dag daar. Die bruide het duidelik nodig om eers groot te word voor hulle kan trou..

Aldie ·

Alles gaan deesdae oor geld, kom terug aarde toe en kinders het geen benul van waardes of waar geld vandaan kom nie, hulle eis net en die ouers verskaf. Eintlik is vandag se kinders niks anders as afpersers nie. Ongelukkig gaan ouers dit eers besef as hulle kinders op eie voete behoort te staan.

OU SAAR ·

Ons troue het op 19 Augustus 1995 vir ons net R300 uit die sak gejaag. Dit was bitter klein. Slegs onmiddelike familie en paar selfgenooide vriende.
Ons is 3 maande na my man se Ouma en Tannie se afsterwe in ń motorongeluk getroud.
Weet julle wat…?
Ons sal dit presies weer so doen as ons kon. Dit was vir ons ń spesiale dag met mense wat almal ingespring het en bygedra het tot die kos ens. Onthaal was op my skoonouers se stoep. As daar 25 mense was, was dit baie.
Ek en manlief is vandag nog net so verlief soos 29 jaar terug.
Daai doedie moet wakker word en besef dit gaan nie oor die troue, onthaal of mense wat dit bywoon nie. Dis ń dag wat die res van julle lewens saam fier.
Dis waaroor dit eintlik gaan…
Die res van julle lewens as ń paartjie…

trotsNAMSA ·

Die “geliefdes” vandag bly al jare saam en wil op hul troudag skielik “lelie skoon” voorkom. Waarom so ‘n troue bywoon ? Dit nogal onder ‘n boom op ‘n wynplaas ? Ek bly liewer tuis as om kilometers agter “ou getroudes” aan te ry met aanwysings wat hulle wil hê. Dan praat ons nie eers van die oorslaap nie ?
Niemand trou meer in ‘n Kerk nie. Ek bly rustig tuis.

Niklaas ·

Ek kry die indruk dat die bruid rondsoek na ‘n borg of vrygewiges wat eintlik net haar onthaal en die deftige wittebrood gaan befonds. Maar sy sal dit nou seker nie erken nie.

OMW ·

Me myself and I.
Alles moet verloop soos ek dit wil hê
Uithaal en wys of jy nou het of nie
Ek wil nie sulke vriende hê nie.
O nee …….

Elma ·

lekker lag ek nou – “remove friend from FB is the ultimate insult” mos.

Charllas ·

Kyk ek is baie jammer maar ek gun almal hulle geluk maar vlieg om `n troue by te woon sal ek nou nie! Daar is nie `n manier nie, en sy praat nie van kleingeld hier nie. Daai gaste moet afvlieg, bly plek betaal en nog daai kant kan eet ook!

Niklaas ·

Ek dink haar amperse bruidegom , loop heel gelukkig rond en voel erg verlig dat die groot liefde saga beindig is.

Alta Alleman ·

Dan wonder ek waarom jul verhouding op die rotse is. Ek sou ook gehardloop het as ek jou verloofde was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.