Bruid se vereistes klink te dik vir ʼn daalder

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

ʼn Vrou wat tans gereed maak om in Augustus ʼn strooimeisie te wees by haar vriendin se troue, is onseker oor die bruid se verwagting dat sy tussen R66 000 en R110 000 moet opdok om die troue by te woon.

Volgens die strooimeisie is haar vriendin baie welgesteld en “hoef nie te werk nie”.

Die bestemmingstroue in Sisilië, Italië, sal hulle uiteindelik sowat CAD500 000 (ongeveer R6,7 miljoen) kos en hulle verwag van diegene wat dit bywoon, om daarvoor te betaal.

Die strooimeisie sal saam met ʼn paar ander strooimeisie van Kanada af moet reis en gaste is van reg oor die wêreld uitgenooi. Die bruid is ook Kanadees, maar woon tans in Londen, waar sy haar aanstaande man ontmoet het.

Die strooimeisie het haar na Reddit gewend om raad te vra. “Hulle het ʼn vyfsterhotel gekies vir die venue. Ek was onder die indruk dat hulle sou betaal vir akkommodasie vir die gevolg weens die uitspattigheid en die ligging. Hulle sê die hotel het hulle egter meer gekwoteer om die hele hotel te kan bespreek, so ons is aangesê om self ons kamers van Donderdag tot Maandag te bespreek.”

Ná sy gehoor het dat die gevolg nie uitgenooi is na ʼn aandete die Vrydagaand nie, is sy ook in kennis gestel dat die haarstilering en grimering ook nie vir die strooimeisies gedek word nie. Daar word van die strooimeisies verwag om goue juwele en skoene te dra.

“Sy het nie enige reisplan aangestuur of laat weet watter geleenthede vir die gevolg beplan word tydens die vyf dae nie. Hierdie troue gaan my tussen CAD5 000 en CAD8 000 (R66 000 – R110 000) kos vir ʼn week lank waar ek nie gaan kan werk of ʼn salaris kan verdien nie.”

Die strooimeisie voeg by die bruid voel nie dat sy enigiets hoef te verskaf vir die gevolg buiten die troue self nie. “Die bruid en bruidegom ag dit nie nodig om die gevolg of gaste te laat voel hulle word waardeer nie. Hulle gaan ook op ʼn safari van CAD50 000 (byna R670 000) vir hul wittebrood.”

Om sake te vererger, voel sy asof sy baie moeite gedoen het om haar vriendin se henneparty te reël, maar die uitspattige bruid het haar keuse van ligging as “vuil en smaakloos” beskryf. Sy het later ʼn verskoning ontvang, maar ander vriende en familielede maan haar nou om nie die troue by te woon nie. Sy is onseker wat sy moet doen.

Een persoon skryf: “Spandeer asseblief enige geld wat jy vir die bruid se spesiale week gespaar het en doen iets wat vir jou lekker is. Gaan reis iewers heen, of koop iets wat jou lewe verbeter. As jou vriendin haarself soos ʼn prinses wil gedra, is dit nie jou plig om daaraan deel te neem of jou spaargeld of salaris kwyt te wees nie.”

Nog iemand voeg by: “As jy dit nie kan bekostig om dit op jouself te spandeer nie, moet dit nie op iemand anders spandeer nie. Laat weet hulle jy waardeer dat hulle jou gevra het, en jy is spyt jy kan die geleentheid nie bywoon nie, maar ongelukkig kan jy nie meer die reis bekostig nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

VaalDonkie ·

Nee wat, ek bly eerder by die huis. Maak sommer of ek COVID of iets het.

AmY ·

Ek dink nie jy pas by jou vriendin nie. Vergeet van haar en kry ‘n beter vriendin.

Yolandie ·

Enige vriendin wat optree of sy jou ‘n guns doen om teenwoordig te wees by haar troue en daarvoor moet betaal, asook verblyf en reiskoste kan maar gaan doppies blaas. Laat weet haar maar dat jy dit nie kan bywoon nie want jy kan dit nie bekostig nie. Klink vir my dis ‘n slenter………die gaste betaal die onthaal en troufunksie (seker die pak en die trourok) en die gaste “betaal” vir die honeymoon. Te lekker. Nee jammer dit sal nie vir my werk nie.

RS ·

Jammer, maar sulke vereistes van n bruid is nie ‘n vriendin nie. Sy kan maar op haar eie gaan trou en ook nie weer n vriendskap verwag nie.

Hannelie ·

Nee wat hou verby!!! Ek soek nie so ‘n vriendin nie, sy hoef my nie eens na haar troue te nooi nie.
Ek sal nie iets opmaak nie, haar reguit vertel sy is belaglik.

Maan&Sterrekind ·

Dis nou goed en gaaf dat dit haar keuse was om n “destination wedding” te he, maar vir my is n troue baie lekkerder by my huis en my harts mense as wat dit buite in n vreemde land is. Die keuse is joune, maar klink vir my die dame het klaar haar mind opgemaak om te bly……

Patch ·

Trou maar lekker…ek sal tuis bly! Sy kan maar ‘n ander strooimeisie ook kry. Wat van ‘n vriendin is dit?

Racheltjie Debeer ·

Stuur haar in haar peetjie in! Sy is nie die naam vriendin werd nie. Die bruid is verantwoordelik vir die strooimeisies se hare en grimering en rokke. Bedorwe, narsistiese bruid hierdie.

Niklaas ·

Ek het ‘n gevoel die einde van hierdie dames se vriendskap is besonder naby .

Tricea ·

As sy so veeleisend en eieregtig is, wonder ek hoe lank die huwelik gaan hou waarvoor sy so ‘n duur troue hou?

Sandra ·

Ja ek stem saam. Spandeer geld op jouself. As die bruid nie eens jou moeite met die henneparty waardeer nie, sal sy dit nie waardeer, al kan jy dit bekostig, dat jy soveel moeite gedoen het om haar dure troue by te woon nie. Moet jouself ook nie in die skuld sit vir so iemand nie. Sy is duidelik ‘n bedorwe brokkie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.