ʼn Chinese papiermaatskappy het met ʼn vreemde idee vorendag gekom waarmee toiletpapier vervaardig kan word.
Staatsmedia het Woensdag berig die Sichuan Qianwei Fengshen-papiermaatskappy sal panda-ontlasting en kosafval gebruik om toiletpapier mee te vervaardig. Die oorvloedige ontlasting van die wollerige inwoners van die bewaring- en navorsingsentrum vir reusepandas die suidweste van China, sal gebruik word, berig Xinhua.
Die maatskappy het Maandag ʼn ooreenkoms met die sentrum aangegaan. Aldus die verklaring is die ontlasting veselryk, weens die pandas se bamboesdieet.
Pandas produseer daagliks 10 kg ontlasting en 50 kg kosafval van bamboes wat nie geëet is nie of uitgespoeg is. Dit is dus die ideale rou materiaal vir papierprodukte.
Die reusepanda is een van China se mees ikoniese diere en word streng bewaar. Dit word as “kwesbaar” geklassifiseer deur die Internasionale Unie vir Natuurbewaring.