Covid-19: ʼn Spesiale drukkie-gordyn vir sy ouma

Skermgreep uit die video

ʼn Man wat na sy ouma se drukkies verlang het, maar haar nie veilig kan omhels nie weens die Covid-19-pandemie, het ʼn slim plan beraam.

Antony Cauvin (29), ʼn pleisteraar en nou uitvinder van Stratfor-upon-Avon in die Verenigde Koninkryk, het ʼn spesiale drukkie-gordyn ontwerp sodat hy sy ouma vir die eerste keer in maande kon omhels.

Die drukkie-gordyn is gemaak van ʼn deursigtige stortgordyn waaraan veiligheidsmoue vasgemaak is sodat persone aan weerskante van die gordyn maklik mekaar kan omhels.

Cauvin het aan Sky News gesê hy het die stortgordyn en skouerlengte moue gekoop en die moue vasgemaak aan die gordyn. Hy en sy vrou het dit eers getoets voor hy by sy ouma gaan aanklop het, en dit het perfek gewerk.

“Ons het lekker gegiggel, maar besef dit kan eintlik regtig werk!” het Cauvin verduidelik. “Ons is toe sak en pak na my ouma en oupa se huis waar ons die gordyn in die tuin geïnstalleer het terwyl hulle in die huis gewag het.

Die ouma is duidelik baie dankbaar dat sy haar kleinseun veilig kon omhels – sonder dat vel of asem mekaar raak.

Die drukkie-gordyn kan herhaaldelik gebruik word, aangesien die moue en gordyn ontsmet kan word ná elke omhelsing. Enigiemand wat dit gebruik moet ook hul eie weggooibare handskoene dra vir ekstra veiligheid.

Cauvin het nou die installasie in sy ouma en oupa se tuin gelos sodat die sewe ander kleinkinders en drie agterkleinkinders ook drukkies kan kom kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
BoerSonderRoer

‘n Engelsman maak ‘n plan.

Plaaskind

Dis so dierbaar….