Dalk die kwaadste bruid ooit?

Argieffoto (Foto: bacellar, Pixabay)

ʼn Vrou van Kanada het ʼn storm ontketen op sosiale media ná haar inskrywing op Facebook wyd gedeel is.

Die bruid, slegs bekend as Susan van Kanada, het ʼn sprokiesbruilof van $60 000 beplan en gaste gevra om 1 500 Kanadese dollar (ongeveer R16 400) te betaal om die seremonie by te woon. Toe talle gaste geweier het om te betaal, het Susan haar tot sosiale media gewend, die troue gekanselleer en haar verloofde verlaat.

Die troue is vier dae voor die tyd gekanselleer toe die paartjie ontdek het hulle kan nie die geleentheid bekostig nie. Die vrou het haar besluit (in gekruide taal) op Facebook verdedig en blameer haar vriende en familie vir die verhouding wat verbreek is.

“Ek en [verloofde] het ongelukkig ons verhouding verbreek as gevolg van onlangse onoorkombare probleme. Ons het besluit om die verhouding te beëindig en sal nie met enige toekomstige verrigtinge voortgaan nie,” skryf sy.

“Ek het spesifiek, ek bedoel spesifiek, vir kontantgeskenke gevra. Hoe kan ons die troue van ons drome hê sonder behoorlike finansiering? Ons het soveel opgeoffer en elke gas slegs ongeveer $1 500 gevra. Ons het met ʼn paar mense gepraat wat selfs belowe het hulle sou meer betaal.”

Sy verdedig haar droom vir só uitspattige seremonie in die plasing.

“Aangesien ons liefde soos ʼn sprokie was, wou ons ook ʼn uitspattige troue hê. ʼn Plaaslike medium het vir ons gesê ons moet die duurste opsie kies, en ons het gedink, ‘waarom nie?’,” skryf sy. Die paartjie het in daardie stadium self ongeveer $15 000 bymekaargemaak wat hulle op die troue sou spandeer.

“Ons het net ʼn klein bietjie ekstra benodig. Ons droomtroue beloop $60 000.” Die beplande troue sou in Aruba plaasgevind het. “Al waarvoor ons gevra het, was net klein bietjie hulp van ons vriende en familie om seker te maak dit gebeur. Ek bedoel, wat is $1 000? Wat is $1 500? Uiteraard nie baie nie. Dit is maklik om bymekaar te maak en binne begroting. Ek het al gehoor ander mense vra meer.”

Haar strooimeisie het aanvanklik onderneem om $5 000 by te dra en haar verloofde se familie $3 000. Toe die res van die gaste egter nie bereid was om enige kontantbydraes te maak nie, het die strooimeisie en die verloofde se familie ook besluit om nie enige oorbetaling te doen nie.

Op ʼn skarefinansieringsblad kon sy slegs $250 bymekaarmaak.

Haar verloofde het daarna voorgestel dat hulle dalk in Las Vegas trou, maar Susan was nie beïndruk met dié idee nie. “Hy was ernstig. Hy wou een van daardie vuil, goedkoop Vegas-troues hê. Is hy mal? Is ek veronderstel om opgewonde te wees oor die idee om tussen dobbelaars en alkoholiste te trou?”

Susan het gesê dit sou haar laaste plasing op Facebook wees en sy het beplan om haar rekening daarna te verwyder. Sy is van voornemens om in Oktober en November met ʼn rugsak deur Suid-Amerika te reis “om haarself te vind” en ontslae te raak van die “negatiewe en toksiese energie”.

Die paartjie het mekaar as 14-jariges ontmoet en was dadelik verlief. Hulle het verloof geraak toe hulle 18 jaar oud was en toe sy 20 jaar oud was, het sy ontdek sy is swanger met hul babaseuntjie. Hul seuntjie sal na verwagting by sy pa bly terwyl Susan deur Suid-Amerika reis.

“As ek terugkom sal ek ʼn nuwe Facebook begin met vriende wat my nie in die rug gesteek het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mariaan ·

Die is al ‘n ou storie Het al verlede jaar die rondte gedoen op Facebook

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.