Debat oor Loch Ness-monster herleef oor toeris se foto

Foto: Steve Challice

ʼn Debat oor die Loch Ness-monster het weer opgevlam ná ʼn foto op sosiale media gedeel is van ʼn “geheimsinnige kreatuur” wat ʼn toeris geneem het.

Steve Challice, van Southampton in Engeland, het die foto geneem van wat hy “ʼn groot vis” noem toe hy verlede jaar in Skotland vakansie gehou het. Toe hy die foto onlangs in ‘n groep op Facebook gedeel het, wou talle persone weet of dit nie dalk Nessie is nie.

Challice meen die vis was ongeveer 9 meter van hom af weg en sowat 2,5 meter lank.

Talle het in die kommentaar gespekuleer of dit dalk ʼn foto kan wees van Nessie, en ander het die egtheid van die foto bevraagteken. Die Daily Record berig selfs Challice is skepties. Hy glo dit is eerder iets soos ʼn vis of ʼn rob.

“Ek weet daar was belangstelling en mense sê dis die monster, maar ek glo dit nie,” het hy gesê.

Hy was in September saam met sy broer met vakansie in Skotland toe hulle Urquhart-kasteel op die oewer van die varswatermeer besoek het.

Foto: Steve Challice

Hy wou aanvanklik ʼn foto van die oorkantste oewer neem, toe hy “ʼn rimpel in die water” opgemerk het. “Ek het ʼn paar foto’s geneem en toe kom hierdie groot vis na die oppervlak voor dit weer verdwyn het. Dit was slegs in een foto sigbaar en eerlikwaar, dis bietjie van ʼn gelukskoot. Ek het vir ʼn ruk lank nog bly kyk, maar het dit nie weer gesien nie.”

Tydens die afsonderingsperiode het hy weer na sy foto’s gekyk en toe op dié foto afgekom. Hy het verduidelik hy het “honderde” foto’s, omdat hy graag foto’s neem.

Hy het aanvanklik gedink dit is dalk ʼn katvis, en het dit aanlyn gedeel sodat mense hom kon help om dit te identifiseer.

“Ek glo nie in die Loch Ness-monster nie. Daar is waarskynlik ʼn logiese verduideliking vir enigiemand wat iets sien. Ek dink ek het sommer net ʼn katvis of so iets afgeneem.”

Outeur Roland Watson, wat die Loch Ness Mystery Blog bestuur, is al in gesprek met Challice sedert hy die foto’s aanlyn gedeel het. Hy bevraagteken egter die egtheid van die foto. “Tot dusver vanjaar het ons nog slegs veraf en swak web-kamera foto’s ontvang weens die afsonderingsperiode, totdat hierdie foto gedeel is. As dit ʼn egte foto is van ʼn kreatuur in Loch Ness, dan is dit maklik een van die topdrie beste foto’s ooit.”

Watson gesels verder met Challice om sy besware en kommer te deel oor die feit dat hy dink daar is digitaal met die foto gepeuter. “Ons sal kyk waarheen dié gesprekke lei.”

Roland Watson het ingezoem op Steve Challice se foto (Foto: Loch Ness Mystery Blog)

ʼn Kenner in digitale fotografie bevraagteken ook die foto en sê dit is waarskynlik dat daar met die foto gepeuter is.

Challice verdedig die foto’s en hou vol dit is eg. “Daar is foto’s op Google wat groot monsters wys met talle boë soos ʼn slang. My foto lyk glad nie só nie. Ek dink regtig dit is net ʼn groot vis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

koos10 ·

Of die fotograaf het baie tyd tydens afsondering gehad om die “perfekte” foto te maak, vir bietjie aandag?

koos10 ·

Dit antwoord nou hoekom die Egiptenare die piramides gebou het, hulle wou die T-Rex in die oë kyk.

Michael 1 ·

Baie goed gedoen, mense hou van misterieuse dinge en as daar n monster in loch ness is hou dit so ,ek sal ook nog die plek wil besoek.

Pieter ·

Daar is beter dinge om jouself besig mee te hou as die ouderdom van die aarde op 6000 jaar te stel. ‘n Duisend jaar is soos ‘n dag vir God. Om die aarde se ouderdom op 6000 jaar te plaas, maak jy God se magtige skepping minderwaardig en goedkoop, dus maklik om deur die mens vernietig te word soos wat huidiglik gebeur. Indien jy die verskeidenheid, diversiteit en gesteentes waarneem sien jy God se dinamika wat tydloos is. Die wette van die fisika bewys dat God onverstaanbaar groot is en nie in 6000 jaar ingedruk kan word nie. Dit is Godslasterlik om God in jou menslike denke en verwysingsveld te beperk.

Simon ·

Evolusie is nie ‘n teorie nie. Net so is die piramides ook nie deur die Egiptenare gebou nie. Net so is die Bybel ook nie deur die Vatikaan Katolieke geskryf nie.

Adam Adriaan ·

Daardie is nie ‘n vis nie… Dis die rug van ‘n Pleiosaurus…

ES ·

Ek dink eerder Spinosaurus Egypticus. Maar ek sal nie met enige graad van sekerheid kan bevestig nie want ek het nog nooit een gesien nie. Aangesien hul al biljoene jare terug uitgesterf het.

Engela ·

Adam, jy bedoel seker Plesiosaurus. Nog nooit van ‘n Pleiosaurus gehoor nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Elke ou kan maar glo wat hy wil. Kent Hovind is ‘n Amerikaanse fundamentele evangelis en “kreasionis”. Hy misken die wetenskap op verskeie gebiede en glo in allerlei samesweringsteorië. Hy is ook gekant teen die betaling van belasting omdat dit kwansuis glo verbind is met kommunisme, evolusie en die nuwe wereld orde. Sy kwalifikasies se egtheid is verdag en deur die pos bestel.
Enige snert kan op Utube as die Waarheid voorgehiou word.
Ek het onlangs ‘n aanhaling gelees wat die rol van die wetenskap in die Skepping pragtig omvat.
“Wetenskap is ‘n werktuig waarmee ons poog om God se onbegryplike wysheid en skepping te verstaan”
Diegene wat in “Dr” Hovind se nonsies wil glo kan eerder hulle toekoms in die Huisgenoot se sterre rubriek gaan lees.

Daleen ·

Wat dit ook al is my visvang verslaafde manlief sal sy voortande gee om daardie enetjie aan sy hoek te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.