Die 10 duurste Kersversierings ooit

Dis daardie tyd van die jaar wat almal gereed maak vir Kersfees: huise word getooi in glinsterende liggies en die mooiste versierings … Kinders is opgewonde oor hul geskenke en die tafels kreun onder die lekkerste disse.

Dis ʼn tyd van tradisie, feesviering, familie, waardering en om weer met geliefdes kontak te maak.

Tussen al hierdie heerlikhede en vrolikheid is daar egter ook die geldmaak-kant, die oorvol winkels en rykes wat diep in hul beursies delf.

Hier is die wêreld se top-10 duurste Kersfees-versierings:

10. Luukse kers met ʼn halssnoer – $5 000 (byna R65 000)

Dié kers word verkoop in ʼn swart boksie met ʼn wit satynlint. ʼn Halssnoer, deur Gucci, van 14 karaat witgoud, het 38 diamante (altesaam 2.23 karaat) is om die kers gebind.

 

9. Singende takbok – $6 920 (byna R90 000)

Hansa Toys in Amerika verkoop dié takbokkie, gemaak van poliëster en akriel. Die takbok het drie liedjies wat op ʼn SD-kaart opgeneem is en die takbok sing die liedjies. Hy beweeg sy kop saam op die ritme van die musiek. Die kinders sal dol wees daaroor!

 

8. Kristal-geskenkpapier – $7 549 (byna R98 000)

Geskenkpapier is gewoonlik sommer net ʼn eenvoudige bykomstigheid om ʼn geskenk mee toe te draai. Die maatskappy Rebekah Chol, ʼn luukse geskenktoedraaidiens, het dié papier gemaak wat met Swarovski-kristalle bedek is.

 

7. Swarovski-boomstaander – $14 000 (ongeveer R180 000)

Dié staander is ideaal vir ʼn duursame goue Kersboom in jou huis. Die staander is met goud en Swarovski-kristalle bedek.

 

6. Duurste Kersboom-bal – $136 000 (ongeveer R1,7 miljoen)

Ons almal ken Kersboom-versierings – maar dié Kersboom-bal is verhewe bo die res! Mark Hussey het ʼn jaar lank aan dié bal ontwerp. Dit is bedek met 500 diamante, waarvan drie groter is as een karaat elk. Daar is ook 188 robyne in die ontwerp.

 

5. Diamantversierde Kersfees-ster – $950 000 (ongeveer R12,3 miljoen)

Dié ster is gemaak vir die boonste punt van jou Kersboom. Die ster is goud en silwer met 281 diamante. Daar is boonop ʼn verstommende 5 karaat seldsame D-diamant in die middel van die ster. Die ster is ontwerp deur 77 Diamonds in Londen.

 

4. Goue Sinterklaas – $1,6 miljoen (ongeveer R20,7 miljoen)

Dié Sinterklaas is gemaak van 20 kg goud. Sy gordel is ook van goud gemaak met ʼn diamant-gespe. Die 45 cm hoë figuur is ontwerp deur die Japanner Ginza Tanaka.

 

3. Kersboompie met gedroogde rose – $1,8 miljoen (ongeveer R23,3 miljoen)

Dié Kersboompie is klein genoeg om op jou tafel te staan. Die boompie is bedek met gedroogde rose en 400 diamante van Australië en Suid-Afrika. ʼn Rooi teddiebeertjie is ook by die prys ingesluit.

 

2. Kersboom van soliede goud – $1,95 miljoen (R25,2 miljoen)

Die bekende juwelier Ginza Tanaka van Tokyo, Japan, het dié 2,4 meter hoë boom ontwerp. Dit is gemaak van 24 karaat soliede goud en weeg 12 kg. Die versierings is ingesluit – goue plaatjies, hartvormige ornamente en linte, natuurlik alles van goud.

 

1. Kerskrans van diamante – $4,6 miljoen (byna R60 miljoen)

Pasi Jokinen-Carter, ʼn bloemis van Finland, het met dié interessante idee vorendag gekom: hy het ʼn Kerskrans ontwerp met 40 diamante en robyne, wat met die luuksste blomme ter wêreld versier is, klimop-bessies, boslelies, lingon-bessie- en bloubessiestingels, helleborus en bloekomblare.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Ek wou nie, maar ek gaan tog…
Jeremia 10: 3-5
” want n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van n ambagsman met die byl.
Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie.
Soos n voëlverskrikker in n komkommertuin is hulle,”

Johan ·

Eish ek is bly jy het baie dankie ek soek al lankal na daardie skrif

Vicky ·

Dis nou sommer plain weg malligheid! Waaroor gaan kersfees regtig?? Oor n stuk klip wat blink of n bok wat sing OF Jesus se geboorte? Oorsese mense en self ons mense moet hulle lewe agter mekaar kry. Die Liewe Heer wat gebore is, is deur baie vir al ons sondes ♡

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.