‘Die Flooze’ se boerboel kry internasionale fliekrol

Rommel en Sigorney Weaver. Foto: Facebook via Sorina aka Die Flooze fan page

Rommel en Sigorney Weaver. Foto: Facebook via Sorina aka Die Flooze fan page

Die sanger en aktrise, Sorina Erasmus, en een van haar man se boerboele, het onlangs ʼn rol losgeslaan in ʼn Neill Blomkamp-fliek saam met die internasionaal-bekende aktrise Sigourney Weaver.

Braam Riekert, Sorina se man, het vertel hy teel al ʼn geruime tyd boerboele. “Rommel, die boerboel wat die rol gekry het, is geteel in my onderneming, Braambos Boerboele. Ek en Hein Viviers, van Heineman Boerboele, het onlangs vir Rommel teruggekoop van sy eienaars omdat hy so ʼn merkwaardige hond is,” het Braam vertel.

Hy sê hy het onmiddellik vir Rommel na die oudisies geneem toe hy hoor vervaardigers is op soek na boerboele vir die fliek. “Ek het geweet Rommel is so merkwaardig en daarom het ek en Hein hom ingeskryf.”

Sorina het op Facebook geskerts Rommel het ʼn internasionale fliekrol gekry voordat sy dit kon regkry. “Hulle was Saterdag op stel vir die toetslopie en die boerboele was ’n treffer. Soveel so, dat Sigourney spesiaal ʼn foto van Rommel wou hê. Lyk my hulle boerboel is ʼn beter akteur as ekke,” het sy geskryf.

Rommel weeg 80kg en eet ʼn hond uit ʼn bos uit. “Min mense besef boerboele is ʼn egte Suid-Afrikaanse ras. Die honde weeg gemiddeld tussen 65kg en 85kg. Rommel het egter iets spesiaal aan hom.”

Hy gaan in die lokprent saam met twee ander boerboele te sien wees. Dié lokprent is in Suid-Afrika geskiet. Braam kon egter nog nie iets oor die fliek verklap nie, maar sê nuus sal binnekort bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pragtig ·

Dis mos nou hoe ‘n Boerboel moet lyk Rommel jy is sommer ‘n ster!

Tammy ·

Pragtige gesig…mooier as mooi. Ag, ek wens dit was my hondekind daardie. Alhoewel ek altyd se alle diere is pragtig en almal is vreeslik slim, net soos met mensekinders is dit die blootstelling wat hulle kry wat help om n besonderse persoonlikheid na vore te bring.

Theresa B ·

Ons het ook nog altyd Boerboele. My kinders het groot geword met hulle. Die meeste het goed oud geword en is in die honde hemel. Ek het huidiglik net 1 en hy is my kind. Het sy eie kamer met ‘n bed in my huis. Boerboele is die mooiste en liefdevolste viervoete-vriende. My hart krimp as ek dink hierdie pêl van my word ook oud.
Rommer is pragtig. Kyk mooi na hom. Julle moet maar ‘n plekkie maak vir sy toekennings wat hy gaan kry.

Ronel ·

Boerboele is die dierbaarheid vanself. Ons het 4 babas, 1 boerboel, 2 worsies en ‘n whippet kruis. Hulle is groot maats.
Duke ons boerboel is so geduldig met hulle. Roxy (whippet) is nog nie’ n jaar oud nie en sy is nog baie spelerig, Duke grom nie eers vir haar wanneer sy te erg raak nie, hy laat haar maar karring aan hom tot sy genoeg gehad het.
Ek is net bekommerd wat ek gaan maak sou hy die dag sy pragtige oë toemaak.
Geniet die film maak Rommel jy is pragtig verby.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.