Dié honderasse is slimste

Skaaphonde is topaanspraakmakers in verskeie hondesportsoorte. (Foto: Blue Bird/Pexels)

Honde‑eienaars voel dikwels oor hul vierpotiges soos ouers oor hul kinders voel; dat syne die mooiste, oulikste en die slimste is.

Soos met kinders word honde se intelligensie egter ook op verskillende maniere gemeet, maar die kern daarvan is die vermoë om nuwe inligting in te samel, nuwe gedrag aan te leer en dít wat geleer is dan in nuwe situasies toe te pas.

Studies dui ook daarop dat honde, nes hul tweepotige base, ook daartoe in staat is om emosionele intelligensie te hê en komplekse gevoelens soos jaloesie en afwagting te ervaar.

Die webwerf Bored Panda het ʼn lys van die slimste nat snoete saamgestel, waarvan die topvyf die volgende is:

  1. Skaaphond

Skaaphonde word as die wêreld se slimste hond beskou. (Foto: Jjasong Huang/Unsplash)

Skaaphonde is van die Anglo-Skotse grensstreek afkomstig en soos hul naam aandui, is hulle hoofsaaklik geteel om veewagters te wees. Hul voortreflike kognitiewe vermoëns, fiksheid en vriendelike geaardheid sorg dat hulle ook dikwels topaanspraakmakers in verskeie hondesportsoorte is en ook gewilde troeteldiere maak. Hulle vereis egter aansienlik meer daaglikse oefening en stimulasie as talle ander honderasse.

  1. Golden retriever

Golden retrievers se geduld en vriendelikheid maak hulle top-gidshonde. (Foto: Helena Lopes/Unsplash)

Dié honderas se naam verwys meer na sy hart van goud eerder as sy vermoë om edelmetale uit te grawe. Hulle word ook gekenmerk deur hul vriendelike en selfversekerde geaardheid. Al hierdie karaktereienskappe, tesame met hul intelligensie, maak van dié ras ’n perfekte troeteldier vir die gesin. Hul gehoorsaamheid en geduld sorg ook dat hulle dikwels as gids- en reddingshonde gebruik word.

  1. Rottweiler

Rottweilers is een van die oudste honderasse. (Foto: Sabine Jauzeme/ Unsplash)

Rottweilers is een van die oudste honderasse en word sedert die Romeinse tyd as geskikte veewagters gereken. Hulle het egter deur die jare van waghonde tot oorlogshonde ontwikkel en later as metgeselle. Luidens navorsing tree hulle dikwels verbasend liefdevol op teenoor die vee waaroor hulle moet waak, mits die vee gehoorsaam is. Rottweilers se temperament word as goedgeaard, rustig, toegewyd en gehoorsaam beskryf terwyl hulle ook selfversekerd en vreesloos is.

  1. Duitse herdershond

Duitse herdershonde is ʼn gunsteling om te werk as militêre en polisiehonde. (Foto: Shayna Douglas/Unsplash)

Dié jong honderas vind sy oorsprong aan die einde van die 19de eeu in Duitsland. Hoewel hierdie honde – met hul wolfagtige voorkoms – destyds ook hoofsaaklik as veewagters gebruik is, word hulle vandag hoofsaaklik geteel vir hul intelligensie en is ʼn gunsteling om te werk as militêre en polisiehonde en natuurlik as akteurs op die silwerdoek.

  1. Dobermann-pinscher

Doberman Pinschers is bekend vir hul sterk, slanke lywe. (Foto: Gytis M/Unsplash)

Dié uiters intelligente honderas is deur Karl Friedrich Louis Dobermann, ’n belastinggaarder van Duitsland, in die laat 1880’s geteel. Hoewel hulle dikwels in die media as kwaai en wrede honde uitgebeeld word, kan dié honderas met sy sterk, slanke lyf en donker pels ʼn liefdevolle en toegewyde metgesel word indien hy die nodige opleiding en aandag kry. Party kenners reken dat hulle selfs makliker is om op te lei as skaaphonde.

Die volledige berig kan op Bored Panda gelees word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Witbaard ·

Dobermann en Rottweiler lyk darem nie mooi met n lang stert nie

Misky ·

Ek lief ‘n Labrador en hulle is darem baie naby aan ‘n Golden Retriever. Super intelligente honde en so liefdevol.

Chris ·

In my lewe het ek nog net ‘n Boerboel, Engelse Boel, Doberman en Spanjoel gehad. Die Boele is nie die skerpste honde wat daar is nie. Die Doberman het ek nie lank gehad nie want sy het vir moeder geknor wat haar agter my rug op die bed gevang het. Die Spanjoel was die “slimste” hond wat ek al gehad het. Ek glo dat diere is in elk geval baie kere slimmer as hul base. ‘n Hond het die vermoë om moeilikheid te ruik en meng nie sommer met almal nie. Honde is verdraagsaam vergewe jou gou, is elke keer bly om jou te sien en praat nie terug nie.

absoluut ·

Ons het ook al heelwat honde gehad, van Rottweilers en Rifrue op die plaas en later op die dorp n Worshond aangeneem en moet se ek dink Worshonde is baie slim en intelligent. Het daarna en nog steeds n Jack Russel en is al 16 jaar oud maar Super skerp en intelligent. Ek dink baie van diere se konneksie met mense en hulle optrede hang af van die hoeveelheid liefde en mense se optredes met hulle deur hulle moods wat hulle weer toelaat om slim of intelligent te wees.
Die konneksie en die band raak net onbeskryflik met die tyd in n verkorte weergawe van menslike oudword wat ons in ons diere sien.
Geniet jou troeteldier en gee hom net die beste

FrikkievV ·

Ons skaaphond was maar van gemiddelde intelligensie, nogal gesukkel om hom te leer om katte uit die erf te hou.
Hy net vir hulle sit en kyk, maar boeta daai hond het energie gehad! Genoeg vir 5 honde.

Robert ·

Hy is geprogrameer om bymekaar te maak, nie verjaag nie. ;-)

Christelle ·

Ek het 3 skaaphonde. Nr 1 hou van geen kat of voël in die erg nie. Nr 2 slaap amper heeldag. Nr 3 het energie van 5 saam. Tussen my 3 is daar baie persoonlikhede

Louis ·

Ek hou nie van hulle nie, maar poodles gaan stry met die top 5.

En hul mag dalk nie die slimste wees nie, maar Malinois is die beste polisiehond wat jy kan kry.

Twallie ·

Ek het iewers gelees dat Maltesies slimmer is as Duitse Herders.

Ek het ook gelees dat Rotties nie baie slim is nie. Ek dink dis baie subjektief.

Ek gaan stry met die nommer een keuse. Die Belgiese Herders hond (en al die variasies: Groenendael, Tervuren, Malinois en Laeknois) is by verre slimste woef op aarde.

Maar ek neem aan daar is verskillende kategorieë van intelligensie by honde. Die Malinois is ‘n hond wat werk, en probleme kan oplos. Meer fokus gedrewe. Golden Retrievers al ek aanneem is meer emosioneel intelligent, en maak dus goeie troeteldiere, waar ‘n Malinois baie “standoffish” kan wees.

Vlam ·

Ons het ‘n Yorkie kruising met ‘n skaaphond, sy verbaas my elke dag. Moet ook nie haar sussie opregte tea cup yorkie weggooi nie, sy toon haar emosies baie goed. Oupa spot haar gereeld en sê sy is meer baba as hond
Maar verruil my baba’s vir niks nie

Patrick ·

Ek dink n’ Skaaphond sal lekker wees maar Rottweiler met kinders? Dis klink as sleg

JohanEtz ·

In ons uitgebeide familie was Rottweilers verantwoordelik vir ‘n hele paar gevalle waar jong kinders verskeur is….

Petro ·

Ons het n Pitbull. Die slimste hond ooit. Daar is ongelukkig n negatiewe stigma aan hierdie honde gekoppel. Hy is 5 maande en ek hoef net een keer iets vir hom te wys en dan doen hy dit. Baie lief vir die Pitbull-ras

WILLEM ·

Stem saam Rottweilers lyk nie goed met ‘n kort stert nie.
Hulle is sekerlik die mees betroubare waghonde, en beskerm hul huis mense.
Goeie afrigting en beheer is aan te beveel – vreemde mense word nie toegelaat by jou huis nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.