Die langste ononderbroke passasiervlug

(Foto: James D Morgan/Qantas)

Australië se Qantas-lugredery het Sondag die eerste ononderbroke kommersiële vlug van New York na Sydney onderneem, wat gebruik is as ʼn toetslopie om die effek van ekstra lang vlugte te bepaal op bemanningsuitputting en vlugvoosheid onder passasiers.

Die Boeing 787 Dreamliner het vroeg Sondagoggend in Sydney aangekom ná ʼn vlug van 19 uur en 16 minute – die wêreld se langste (16 200 km).

Qantas het gesê die toetse strek van die monitering van vlieëniers se breingolwe, melatonienvlakke en paraatheid tot oefensessies vir passasiers. Altesaam 49 persone was aan boord om die gewig van die vliegtuig te beperk en dit die nodige brandstofkapasiteit te bied.

“Ons is tevrede die vlug verloop het en dit is wonderlik om data te hê wat ons sal help om dit in ʼn gereelde diens te omskep,” het kapt. Sean Golding, wat die vier vlieëniers gelei het, gesê.

“Ons weet dat ekstra lang vlugte tot ekstra uitdagings lei, maar dit is elke keer só wanneer tegnologie ons in staat stel om verder te vlieg. Die navorsing wat ons doen sal ons ʼn beter strategie gee van hoe ons gerief en welstand kan verbeter,” het Alan Joyce, uitvoerende groepshoof van Qantas, gesê.

Nagvlugte begin gewoonlik met aandete en dan word die ligte afgeskakel, maar dit was nie só vir dié vlug nie. “Ons het met middagete begin en die ligte vir ses ure lank aangeskakel gehou om aan te pas by die tydsduur van ons bestemming. Dit beteken dat jy dadelik die impak van vlugvoosheid kan verminder.”

Prof. Marie Carroll, van die University of Sydney, het gesê sy en haar medepassasiers het baie gestrek en groepsoefeninge gedoen op voorgeskrewe intervalle. “Ons het die Macarena gedoen!”

Nog twee navorsingsvlugte word beplan as deel van Project Sunrise – Londen na Sydney in November en nog ‘n vlug van New York na Sydney in Desember.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jack Klok ·

Lugrederye diskrimineer teen skraler en ligter mense. Ek weeg 68kg en saam met my toegelate 22kg bagasie is die gewig wat die redery in my geval moet vervoer baie ligter as in die geval van ‘n persoon wat 120kg weeg. As hy/sy nou ook nog 22kg bagasie het moet die redery 52 kg meer gewig teen dieselfde tarief vervoer. As my bagasie 10kg oorgewig is moet ek ekstra betaal maar die vet ou betaal nie ekstra vir die 42 kg wat hy reeds sonder sy bagasie swaarder is ek met my 10 kg oorgewig bagasie.

As ‘n skraal outjie tussen twee vettes beland leef hy vir die hele vlug swaar. Vet mene “oorvloei” hulle sitplek ruimte, veral hulle kniee neem spasie op van persone wat langs hulle sit. En as jy verby hulle moet kom om toilete toe te gaan moet die vettes eers opstaan en in die gangetjie vir jou wag.

My oplossing is om vliegkaartjies se prys per kg te bepaal. Alle gewig bo 60kg moet ekstra kos.

Dorothy ·

Jack Klok, ek stem heelhartig met jou saam en jou somme is in die kol. As ek Australia toe vlieg met die beperkte gewig, wat so noukeurig dopgehou moet word het ek ook al gewonder of ek nie van die goed aan my lyf kan vasbind nie. Indien jou gewig reg is kan hulle jou mos die balans tussen die vet ou en myne op my bagasie tegemoetkom. Diiiit sal baie lekker wees.

Fish ·

Jack klok maer mense het nie nodig om minder klere te vat nie, want julle gebruik minder lap. so betaal maar jou boete as jy teveel strooi inpak. Baie mense is net lank en nie vet nie en kan maklik oor ‘n 100KG weeg en nie ‘n ons vet aan hulle he nie.

Hanno ·

So hier en daar is n lang, maer mens wat meer as 100kg weeg. Die oorgrote meerderheid mense aan die verkeerde kant van 100kg is normale lengte.

Tong-innie-kies ·

Hanno, ek is ook aan die verkeerde kant van 100kg. Ek is nie normale lengte nie. Op die gewig-tot-lengte skale is ek omtrent 1.5m te kort…

Trots ·

Kyk net hoe trots lyk daai uniforms en hulle mag maar. En genade, kyk hoe skoon en onoorbevolk is die lughawe se saal. Lyk soos baie jare gelede hier by ons.

Chris Ws ·

Laat my terug dink toe ons met ‘n 747 van Quantas redery Perth toe gevlieg het.Ek en my vrou was STOM toe ons in die lughawe gebou instap van die vliegtuig af.Na wat ons ib OR Tambo ervaar het was dit ‘n welkome ontnugtering!Die hele gebou binne en buite is SKOON en netjies teen hier en gladnie oorvol nie.

stormrider ·

Twak man! Ek kan my nie indink dat die eksperiment akkurate resultate spesifiek m.b.t. die uitwerking op passassiers kan lewer nie.

49 mense op ‘n Dream-Liner, met geskeduleerde groep strek- en oefen sessies? En elke passasier het die ekwivalent van 20+ ekonomie-klas sitplekke.

In die werklike lewe, sit jy regop in ‘n klein sitplekkie met mense links en regs van jou, jy moet bo-oor mense klim om na die badkamer te gaan.

Hulle sal maar hulle toetskriteria moet aanpas

Colin ·

100%, Stormrider. Waar gaan daar plek wees op ‘n volgepakte vliegtuig vir oefening? Miskein in eerste en besigheids klas, maar vir seker nie in “cattle class” nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.