Die lekkerste werk op aarde?

Argieffoto (Foto: efes/Pixabay)

Sou jy graag jou werk wou laat vaar en elke dag net lekkergoed by die huis wou sit en eet?

ʼn Kanadese lekkergoedmaatskappy bied CA$100 000 (sowat R1,3 miljoen) per jaar aan vir dié werk.

CNBC het berig oor dié ongewone plasing op LinkedIn vir “hoof-lekkergoedbeampte” vir die Kanadese maatskappy Candy Funhouse.

In dié pos moet iemand alle lekkergoed toets en “beheer neem van allerhande prettighede!”. Die persoon moet ook aan die leiding staan van die maatskappy-strategie. Hulle is op soek na enigiemand in Noord-Amerika wat vyf jaar of ouer is en natuurlik ʼn soettand het, geen allergieë het nie en iemand met “ʼn entoesiasme en bereidwilligheid om snoepprodukte te toets”.

Volgens die advertensie is ʼn omvattende tandheelkunde-plan ook by die pakket ingesluit.

CNN Business berig Candy Funhouse word bestuur deur vier gesinslede in Toronto wie se ouers ʼn restaurant en oliebol-winkels bestuur het.

Jamal Hejazi, uitvoerende hoof, sê ʼn paar duisend mense het reeds vir die pos aansoek gedoen, sommige selfs met ʼn video, en hy kan verstaan hoekom. “Dink aan jou beste herinneringe rondom lekkergoed, en nou kan jy dit elke dag by die werk doen!”

Persone wat belangstel kan afstandwerk doen, of in die maatskappy se kantore in Toronto of Newark, New Jersey in die VSA. Die persoon sal óf in Kanadese dollar of in Amerikaanse dollar betaal word, afhangende van waar hulle woon. Hulle het die opsie om ʼn gewone 40 uur-werksweek te werk, tensy kinderarbeid-wetgewing dit verbied (spesiale reëlings sal getref word indien die wenner ʼn jonger persoon is).

Dis ook nie net ʼn tydelike rol nie: dit kan ʼn permanente werk word, berig CNBC. Hejazi sê indien ʼn kind uiteindelik wen, beteken dit dat die vergaderings dalk “bietjie chaoties kan wees”, maar hy dink dit kan ook interessante resultate tot gevolg hê. “Ons dink ʼn kind se kreatiewe verbeelding en onbevooroordeelde mening kan ʼn groot bate wees.”

Oor die “3 500+ produkte” wat die persoon maandeliks sal moet verorber, sê Hejazi dit is net die hoeveelheid produkte waaroor die maatskappy beskik. “Dit sou neerkom op 117 per dag,” het hy aan CNN gesê. “Dis heeltemal te veel.”

Aansoekers moet ʼn dekbrief, CV en stawende dokumentasie voor 31 Augustus op LinkedIn indien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miena ·

Sjoe nee dankie – so n soettand is ek gelukkig nie. dink net aan die gewisprobleme en suiker verwante siektes wat opgedoen kan word.

Meisie ·

Dis seker hoekom hulle so baie betaal! Tandjies ook in toom hou met al die suiker

Niklaas ·

Dis gewis nie ‘n baie gesonde beroep nie. ‘n Gewig toename sal beslis volg en dus moet begroot word vir al daardie nuwe groter en wyer klere.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.