Die melkman keer terug

Argieffoto

Die gebruik van glasmelkbottels wat teruggegee, gewas en weer gebruik kan word, neem weer toe as ʼn antwoord op die stryd teen plastiek.

Volgens Dairy UK het glasbottelaflewerings die afgelope twee jaar met ʼn kwart toegeneem tot ongeveer 1 miljoen. Die tradisionele melkman is die beste opsie vir diegene wat van plastiek ontslae wil raak en eerder glasmelkbottels verkies. David Attenborough se Blue Planet II word beskou as die grootste invloed om klante in te lig oor die probleem met plastiek.

ʼn Glasmelkbottel, wat teruggegee kan word, kan tot 20 keer op ʼn stoep afgelewer word, terwyl die plastiekweergawe net een keer gebruik kan word.

Angelo Dragone, van Nigel’s Dairy wat melk aan suid- en wes-Wallis verskaf, het gesê daar is beslis ʼn behoefte aan melk in glasbottels. “Die glasmelkbottel keer terug en dit wil voorkom of mense dit baie graag op die rakke wil sien,” het hy gesê. “Daar is ʼn groot toename in gemeenskappe wat saamstaan teen plastiek. Ons Facebook-blad is vol kommentaar van mense wat wil weet of ons glasmelkbottels verskaf in die gebiede waar hulle woon.”

Kopers wat aanvanklik verkies het om hul melk in kruidenierswarewinkels te koop, verkies nou weer die melkman, in die stryd om plastiek te vermy, as deel van Daily Mail se “Turn The Tide On Plastic”-veldtog.

Parker Dairies in die ooste van Londen, het ook ʼn skerp toename gesien in die behoefte aan melk wat op klante se voorstoep afgelewer moet word. Paul Lough, depot-bestuurder, meen die toename kan ook toegeskryf word aan persone wat plastiek wil vermy.

The Cotteswold Dairy, in Tewkesbury, Gloucestershire, het ook ʼn toename gesien. “Ons vervaardig en bottel al melk in glasbottels sedert my oupa in 1938 die onderneming begin het,” het Roseanne McEwan, takbestuurder, gesê. “Toe supermarkte begin het om melk te verkoop, het ons verkope afgeneem. Ons het egter die afgelope paar jaar gesien dat mense weer in voordeuraflewerings begin belangstel en die afgelope week het ons 50 nuwe klante bygekry.” Sy meen ook mense wil melk in glasbottels aankoop as ʼn manier om al hoe minder plastiek te gebruik.

Die suiwelreus Muller het in 2016 Hanworth Dairy in die suidweste van Londen oorgekoop en onderneem om die glasbotteleringsaanleg en afleweringsdiens te bewaar wat gesluit sou word. Die maatskappy het intussen met die Milk&More-diens begin, waar gebottelde melk en ander produkte by 600 000 klante landswyd afgelewer word. Patrick Muller, hoof van Milk&More, sê glasmelkbottels is “deel van die Britse lewe”.

Melk in glasbottels is egter nie goedkoop nie. Ongeveer 500 ml melk in ʼn glasbottel van ʼn melkman kos ongeveer 70p (ongeveer R11-00) en 50p (ongeveer R8-00) in ʼn supermark.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

bb ·

As ‘n pasgetroude in 1979 was ons aan die wes rand nog gelukkig om dit te ervaar. Hulle het ook lemoensap afgelewer. Die bottels was in swart ink geskryf en jy het twee verskillende koepons gekoop vir onderskeidelik melk en lemoensap. Vandag nog sien jy ouer geboue wat by elke deur ‘n ingeboude inham van ongeveer twee bakstene het vir die melkbottels. Baie mense het al vergeet waarvoor dit is of is te jonk om te weet.

Joof ·

En dis met ‘n super-stil elektriese karretjie vroegogoggend afgelewer.

Sal dit graag weer wil ervaar. Weet egter nie of dit in hedendaagse SA veilig en doenbaar sal wees nie.

Hannah ·

Hoe goed onthou ek my woonstel in St Martini Gardens in Kaapstad en die heerlike vars melk wat in spesiale kassie met houtdeur in die gang geplaas is…goeie tyd gewees!

Casper Labuschagne ·

Ons koop losmaat melk wat direk deur ‘n plaaslike melkery verskaf word. Ek ondervind dat die soort glasbottels wat vir konfyt gebruik word, die maklikste gesteriliseer kan word en dat melk die langste daarin vars bly.

Andre ·

Ek onthou nog hoe moes jy vroegoggend sorg dat die bottels met hulle koeponne in , betyds voor die hek is . Dit was my “werk” om die bottels uit te sit , nodeloos om te se , my “sterre” het gereeld gebrand !

ElmarieB ·

Sjoe dit was goeie ou dae… selfs die sterre wat gebrand het!

Linda Gouws ·

Ai, wat is nou lekkerder as daardie vars melk in ‘n bottel wat afgelewer word. Ek onthou nog die ronde grys plastiese “geld” wat ons in die bottels moes laat. Ek sal beslis weer van melk in glasbottels gebruik maak.

Pine ·

By my het die melkmanne hulle uit ‘n werk uit gestaak. Nou gebruik ek lang lewe melk wat in ‘n karton houer verpak is. Die voorsieners konstateer dat dit voordelig is om melk in donkerte te berg.

Salomie ·

Ons woon in Somerset in Engeland, en ons melk word elke 2de oggend so afgelewer, in die glasbottels. Party dae bestel ons selfs lemoensap, eiers of brood. Alles word voor jou deur dan in n sak gelos. Dit laat my dink aan my kinderdae.

Mien ·

Onthou ook nog die bottels melk wat by ons afgelewer was en as ons nie koepons gehad het nie, het ons sommer die geld by die bottels neergesit. Daar is mooi glas melkbottels met prentjies op by kettingwinkels beskikbaar teen ‘n billike prys. Lekker om melk daarin te gooi, mooi genoeg om net so op die etenstafel te sit.

Katrien ·

Ek was nooit gelukkig genoeg om die aflewering te ervaar nie (te jonk en nooit in die dorp gewoon nie). Maar ek moet darem net sê, ek sit sommer die boks melk op die tafel – regtig nie tyd om my te bekommer oor of mense gaan dink dis nie mooi genoeg nie.

Strooi ·

Wonder hoeveel van die melkman se kinders lees hierdie…. ;-) ?

BOLANDER ·

Ai, dit neem my soveel jare trug. My oorlede Moeder het partykeer vir ons die klein botteltjies laat af lewer vir ons om net so te drink. Lêkker ou jare gewees daardie.

Andre Grundlingh jnr ·

Ek sal graag n melkman wil wees, hulle entosiasme loop hulle vooruit ?

Hier kom n ding ·

En volgende is die emmer stelsel soos die land nou aan gaan. Ag hoe verlang ek nou

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.