Dié prentjie kan glo wys hoe jy dink

(Foto op Twitter gedeel deur @TheAMSportsTalk/Twitter)

ʼn Foto met ʼn optiese illusie word wyd op sosiale media gedeel en lok talle kommentare uit. Die foto kan glo onthul watter tipe denkprosesse iemand volg en of hulle sukkel om verskeie take terselfdertyd uit te voer.

Die foto is ʼn silhoeëtte van ʼn man wat hardloop en vra kykers om te bepaal of die figuur van jou af weghardloop of na jou toe aangehardloop kom.

Die grafika is aanvanklik deur Fact Factories gedeel wat sê dit is deel van ʼn voortgesette projek om te bepaal of iemand ʼn “manlike” of “vroulike” brein het.

As dit vir jou lyk of die man na jou toe aangehardloop kom, voer Fact Factories aan dat jy ʼn “manlike” brein het. Dié mense los glo hul probleme op en probeer moeilike uitdagings oorkom deur analitiese vaardighede en beredenering.

Dié mense leer ook vinnig as hulle nuuskierig is oor iets. “Dis hoekom dié mense al hul energie aan een ding spandeer totdat hulle weet hoe om dit te benader,” voer Fact Factories aan.

Dié mense is egter nie goed daarmee om klomp verskillende take tegelykertyd uit te voer nie. Hulle verkies om op een ding te fokus. Wanneer hulle ʼn idee of ʼn sterk mening oor iets het, dan is hulle gereed om goeie argumente te gee daarvoor omdat hulle seker is van hulself, hul fokus en hul aandagvaardighede.

As dit vir jou lyk of die man van jou af weghardloop, het jy glo ʼn meer “vroulike” brein, sê Fact Factories. Dit beteken hul analitiese vaardighede en beredeneringsvermoë word ten volle gebruik. Dié mense maak staat op hul sintuie en kom nie haastig tot ʼn besluit nie. Hul brein werk op sy beste wanneer hulle hulself in iets kreatief verdiep. Dié mense kan ook maklik verskillende take terselfdertyd uitvoer en het ʼn baie goeie geheue. Hulle kan altyd op hul intuïsie en uitstekende sintuie staatmaak.

Neurowetenskaplikes poog al jare om mites en stereotipes oor hoe die manlike en vroulike brein werk, aan die kaak te stel. Dephna Joel, ʼn bekende neurowetenskaplike, het selfs in 2009 by die Tel Aviv-universiteit ʼn kursus ontwikkel oor dié kwessie. Die debat duur egter voort en sommige wetenskaplikes glo hulle moet weer besin oor geslagte en geslagrolle, terwyl ander aanvoer dat daar geen nut is om sekere dele van die brein as vroulik of manlik te klassifiseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
AmY

Hy hardloop weg van my af. Ek het duidelik ‘n vroulike brein. ;-)

Julia

Dan het ek seker maar n mansbrein. Lyk of hy aan gehardloop kom na my toe. En ja ek kan nie n klomp goed gelyk doen nie. Kan skaars spek en eiers gelyk gaarmaak:-))

Corne123

Wel ek is manlik en lyk meer of hy weghardloop of dan uithardloop gesiene aan die voet in lig se skaduwee wat graatste deel van voet weg wys asook die hand maar dit met el wat dit seker so insien

Shakespeare

Hy is dood en hardloop na die lig (Jesus) toe.

piet

Ek dink die mense wat reken hy hardloop na hulle toe het oogprobleme.