Die (slegte) waarheid oor rubbereendjies

Die binnekant van ‘n rubbereendjie (27 Maart 2018) Foto: AP Photo/Ferdinand Ostrop

Wetenskaplikes het in ʼn studie die waarheid onthul oor daardie oulike geel bad-eendjies – en dis presies wat ouers gevrees het.

Switserse en Amerikaanse navorsers het die mikrobe getel wat in dié badspeelgoed teenwoordig is en bevind dat dit inderdaad ʼn hawe vir slegte bakterieë is. Die bakterieë Legionella en Pseudomonas aeruginosa is in vier van die vyf eendjies wat ondersoek is, gevind – dis ook te sien in die vuil water wat uit die eendjie spuit wanneer dit gedruk word. Dié bakterieë is gewoonlik teenwoordig in infeksies wat in hospitale opgedoen word, het die outeurs in ʼn verklaring gesê.

Die studie, deur die Switserse Federale Instituut van Akwatiese Wetenskap en Tegnologie, ETH Zurich, en die Universiteit van Illinois, is Dinsdag gepubliseer in die joernaal Biofilms and Microbiomes. Dit is een van die eerste indiepte wetenskaplike ondersoek van dié aard.

Die wetenskaplikes het tot 75 miljoen selle per vierkante sentimeter gevind en ʼn verskeidenheid van bakterieë en fungus in die eendjies.

Volgens die span is kraanwater nie die probleem nie, eerder die swak gehalte polimere in die plastiekmateriaal wat die bakterieë laat vermeerder. Liggaamsvloeistowwe, soos urine en sweet, en selfs seep in die badwater voeg mikrobe by wat die bakterieë laat blom.

“Ons het groot verskille tussen verskillende badspeelgoed gevind,” het mikrobioloog en hoof van die studie, Lisa Neu, gesê. Ander baddiere, soos rubberkrokodille, is ook ondersoek. “Een van die redes was die materiaal, omdat dit koolstof vrystel wat as ʼn voedingsbron dien vir die bakterie.”

Alhoewel sekere tipes bakterieë kinders se immuunstelsels kan verhoog, kan dit ook tot oog-, oor- en inwendige infeksies lei, het die navorsers verduidelik. Die mees weerlose gebruikers is kinders “wat daarvan hou om die water uit die badspeelgoed in hul gesig te spuit”.

Die wetenskaplikes het finansiering van die Switserse regering bekom as deel van ʼn groter navorsingsprojek oor huishoudelike voorwerpe – om byvoorbeeld te bepaal of ʼn beter gehalte polimeer sal verhoed dat bakterie en fungus in die eendjies groei. Die Switserse regering het in hierdie stadium nog nie enige aanbevelings gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Daan Erasmus ·

As jy ‘n nes wil sien vir bakterieë kyk na die bad spons. Daar is nou ‘n vuil ding.

Ventilasie ·

So ook swak geventileerde (toe vensters) kantore, hospitale, spreekkamers, klaskamers in die winter. Dit is waaromalmal siek word in die winter, nie oor die koue temperatuur nie, en dit veroorsaak dat baie bejaardes jaarliks sterf.

Michelle ·

Nee wat, dit bou aan die immuniteitstelsel. Daarmee gebad toe ek klein was, my kinders ook, en sover ek weet het niemand siek geword nie.

Gogo Debruin ·

Die hoof van die Drinkwater Mikrobiologielaboratorium waar die navorsing gedoen is, is ‘n oud-Pretorianer, dr. Frederik Hammes.

Pop ·

Ag hemele tog. Ons het almal met eendjies grootgeword en ons kinders ook. Kyk liewers dat die riviere en see en grond skoon gehou word. Vanaand bad ouma se kind met sy eende.

rollie ·

Glo my, die weerstand teen daai bakterie wat die kinders opdoen deur met die eendjies te speel, is van veel meer waarde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.