Dié smulpaap behoorlik ingeburger

Gorske het aanvanklik begin deur nege Big Macs per dag te eet, maar eet deesdae net so twee per dag. (Foto: Verskaf)

Deur Dawid Brand

Net meer as 1 miljard Big Macs word jaarliks wêreldwyd verkoop, wat beteken dis meer as 2,5 miljoen per dag in meer as 100 lande. ʼn Man wat op eie houtjie stewig tot hierdie verkope bygedra het, is Donald Gorske van Wisconsin in die VSA.

Gorske spog met die Guinness-wêreldrekord vir die meeste Big Macs wat enigeen in ’n leeftyd kon verorber. Wat begin het as drie (onskuldige) hamburgers wat hy op 17 Mei 1972 met sy eerste motor gaan koop het, het oor die afgelope bykans 50 jaar toegeneem tot meer as 32 340!

Hy’t aanvanklik begin deur nege Big Macs per dag (darem sonder skyfies) te eet, maar eet deesdae (net) so twee per dag. “Ek is nie iemand wat sommer nuwe dinge probeer nie. As ek van iets hou, is ek geneig om daarby te hou,” sê Gorske, wat ook met verskeie McDonalds-gedenkwaardighede in sy huis spog.

Volgens sy vrou, Mary, was sy onbewus van sy burgerobsessie toe hulle paaie gekruis het. “Ek het ook nie besef dit gaan vir ewig aanhou nie.” Tog bederf sy hom gereeld deur ’n Big Mac huis toe te bring.

Nie net bêre hy elke burger se boksie nie, maar hou noukeurig op ’n kalender rekord van hoeveel burgers hy op watter dag geëet het, kompleet met vyf dekades se kasregisterstrokies.

Gorske het besef sy daaglikse petrolverbruik jaag hom meer as die hamburgers uit die sak en doen nou slegs twee keer per week, op Maandae en Donderdae, sy ses tot agt burgerinkopies.

Bereken teen 540 kalorieë per Big Mac, het Gorske al byna 17,5 miljoen kalorieë verorber. Hoe hou hy sy cholesterol in toom en keer dat hy nie in die pad afrol nie? Hy stap sowat 9,6 km per dag.

Kyk dié video en hoor dit gerus uit die perd se bek.

Die grootste bestelbare burger weeg 352,44 kg en sal jou $5 000 (sowat R74 000) uit die sak jaag. (Foto: Verskaf)

Boeiende burgerrekords

  • Harry Sperl van Duitsland, ook bekend as Hamburger Harry, hou die Guinness-wêreldrekord vir die grootste versameling hamburger-gedenkwaardighede – 3 724 items.
  • Die rekord vir die grootste hamburger is op 9 Julie 2017 in Duitsland opgestel en het ’n astronomiese 1 164,2 kg geweeg.
  • Die wêreld se duurste burger sal jou bykans R5 000 uit die sak jaag. Le Burger Extravagant, wat in die New Yorkse restaurant Serendipity 3 bedien word, word gemaak van Japannese Wagyu-beesvleis met James Montgomery-cheddarkaas, swart truffels, ’n gebraaide kwarteleier en kaviaar.
  • Die grootste bestelbare burger weeg 352,44 kg en sal jou $5 000 (sowat R74 000) uit die sak jaag. Dié burger word sedert 2011 deur Juicy’s Outlaw Grill in Oregon in die VSA gemaak en is beskikbaar vir bestelling met 48 uur kennisgewing vir voorbereidingstyd.
  • Takeru Kobayashi van Japan hou die rekord vir die meeste hamburgers wat binne 3 minute geëet is, naamlik 12. Dié rekord, wat in Milaan in Italië opgestel is, staan sedert 11 Julie 2014.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

Ek is self lief vir ‘n lekker burger, maar dis darem bietjie uitermatig

Sandra ·

As dit nou nie obsessief is nie, dan weet ek darem nie. Om die burgers te eet is goed, maar om al die boksies en strokies te hou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.