Dié trourokke is nie heeltemal wat jy verwag nie

Mimoza Haska se wenrok. (Foto: Verskaf)

ʼn Toiletpapiertrourok. As jy aan die woord dink, flits daar dalk beelde van ʼn geskarrel by ʼn bruidstee op waar die gaste as deel van ʼn speletjie een gas in ʼn toiletpapiertrourok moet tooi. Gewoonlik pas dié rokke nie die kamma-bruid nie en hang daar ʼn gordyn van toiletpapier wat lyk of dit deur ʼn snippermasjien gevoer is.

Kyk jy egter na die rokke wat by die jaarlikse Toiletpapiertrourok-kompetisie, wat deur die span by die Charm Weddings-webwerf en toiletpapiervervaardiger Quilted Northern aangebied word, sou jy nooit kon raai dat dit nie van luukse kant en sy gemaak is nie.

Die kompetisie, wat nou al in sy 15de jaar is, nooi elke jaar ontwerpers van oor die hele VSA om deel te neem. Die wenner het die kans om $10 000 in sy of haar sak te druk, terwyl die finalis in die tweede plek ʼn troosprys van $5 000 ontvang.

Mimoza Haska van Surfside Beach in die deelstaat Suid-Carolina het vanjaar met die louere weggestap. Donna Vincler van Brentwood in Tennessee het die tweede plek behaal, terwyl Susan Nicholson van Kennesaw in Georgia die derde prys van $2 500 ontvang het.

Die kompetisie het eers met ʼn beskeie prys van $500 begin, maar is nou al so bekend dat ontwerpers amper baklei om deel te neem. Meer as 1 500 inskrywings is dié jaar ontvang, maar slegs 12 ontwerpe het na die eindronde deurgedring.

Die beoordelaars van die kompetisie is ook nie sommer enige hierjy nie, en spog met bekende televisiename soos Monte Durham van Say Yes to the Dress: Atlanta, Jeremiah Brent van Nate & Jeremiah by Design en Zanna Roberts Rassi, ʼn E! News-korrespondent en moderedakteur by Marie Claire.

Deelnemers aan die kompetisie moet ʼn trourok ontwerp deur slegs Quilted North-toiletpapier, kleefband, gom en naald en gare te gebruik. Die trourokke is in drie kategorieë, waaronder tradisioneel, modern en kultureel, gedeel. Na raming gebruik elke ontwerper tussen 12 en 123 rolle toiletpapier om hul skeppings te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Petro ·

Ten minste weet die bruidspaar daar gaan nie ‘n moontlikheid wees dat gaste uit toiletpapier hardloop nie. Pluk sommer ‘n stuk van bruid se rok af. Baie kunstig gedoen, maar sal te bang wees om te beweeg net nou val rok uit mekaar of nog erger begin dit reën en die bruid sit net met een bolletjie rok in die hand.

jennefer ·

Trou kom soos n groot … ,dis waar die rokke my aan laat dink.????

Oujongvrou ·

Ek dink is heel mooi. Beter as lap rokke wat ek al gesien het

Susan Nicholson ·

Ek was so verbaas om dit te sien … ‘n Vriend van my, Nico Botha, het my die ‘link’ gestuur. Ek is die wenner van die Kultuurafdeling en die derde algehele wenner van die 15 de jaarlikse TP-trourokkompetisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.