Die uiltjie wat te vet was om te vlieg

Plump (Foto: @suffolkowls/Instagram)

ʼn Uiltjie genaamd “Plump” het opslae gemaak op sosiale media toe dit onthul is dat sy te vet is om te vlieg.

Die Suffolk Owl Sanctuary in die Verenigde Koninkryk het haar in ʼn sloot gevind en alhoewel hulle aanvanklik vermoed het haar vere is te nat om te vlieg of dat sy dalk ʼn besering opgedoen het, het hulle gou ontdek sy is te swaar om te vlieg.

“Sy het ʼn stewige 245 g geweeg (ongeveer ʼn derde swaarder as ʼn gesonde groot uilwyfie) en sy kon dus nie behoorlik vlieg nie,” het die uilbewaringsentrum in die plasing gesê.

“Dit is ongewoon dat wilde voëls in dié toestand beland, so ons moes ondersoek instel oor waarskynlike scenario’s. Die eerste is dat sy moontlik uit ʼn hok ontsnap het, maar sy is nie gering nie en daar was geen ander identifikasiemerkers nie.”

Plump is daarna vir ʼn paar weke dopgehou om te sien hoe sy in aanhouding aanpas. “Dit is gewoonlik ʼn teken dat ʼn wilde uil in aanhouding was indien hulle gemaklik is met kos soos heldergeel kuikens (wat gewoonlik nie natuurlik op die Engelse platteland voorkom nie). Gelukkig was daar nie enige tekens daarvan nie, aangesien sy net so graag wilde kos soos donker muise geëet het,” lui die plasing.

“Ons is dus vol vertroue dat dit net ʼn ongewone geval is van natuurlike oorgewig. Ons het ook bevind dat daar volop veldmuise is in die gebied waar sy gered is, weens die warm en nat winter wat ons in Desember beleef het.”

Plump was ʼn paar weke lank onder waarneming by die sentrum en sy was op ʼn streng dieet. Sy is intussen vrygelaat en met haar vietse lyfie sommer vinnig weggevlieg.

https://www.instagram.com/p/B75WZ3BA696/

https://www.instagram.com/p/B78JL1tgrJr/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.