Dogter herenig met pa se brief uit 1926

Jennifer Dowker en die bottel waarop sy afgekom het (Foto: Nautical North Family Adventures/Facebook)

Verbeel jou jy spoor ʼn boodskap op wat iemand byna honderd jaar gelede geskryf het – en nee, dit is nie ʼn fliek nie.

Jennifer Dowker, ʼn skubaduiker en eienaar van ʼn toerbootonderneming in Cheboygan, Michigan in die VSA, het vroeër vandeesmaand onder die water op ʼn groen glasbottel afgekom. ʼn Briefie in die bottel is in 1926 geskryf.

“Sal die persoon wat dié bottel vind die brief terugstuur aan George Morrow Cheboygan, Michigan en sê waar dit gevind is?” lui die skrywe op ʼn stukkie papier in die bottel.

Dowker het na die boot teruggekeer en ʼn paar foto’s van die vonds op haar Facebook-blad, Nautical North Family Adventures, gedeel. “Kyk waarop het ek afgekom toe ek vensters gewas (en saam met die visse geswem) het. Is daar enige Morrows wat ʼn George Morrow ken wat dalk die briefie circa 1926 sou geskryf het? Coolste nagduik ooit.”

Die foto’s en boodskap het wyd op sosiale media versprei. Haar oorspronklike plasing is reeds meer as 114 000 keer gedeel.

Dowker het op 18 Junie op die bottel afgekom toe sy in die Cheboygan-rivier geskubaduik het om die vensters op die bodem van haar glasbodemboot skoon te maak. Alhoewel die bottel driekwart met water gevul was en die kurk los was, kon sy sien daar is ʼn papier in die bottel.

ʼn Paar dae later, op 20 Junie, het ʼn vrou genaamd Michele Primeau haar gekontak. Die 74-jarige Primeau sê sy het van die briefie te hore gekom van iemand wat Dowker se plasing op Facebook gesien het. Volgens Primeau is dit haar pa se handskrif. Hy is in Cheboygan gebore en het tot sy twintigerjare daar gewoon.

“Wat interessant is, is dat hy die bottel in November in die rivier gegooi het. Sy verjaarsdag is ook in November,” het Primeau aan USA Today gesê. Haar pa is in 1995 oorlede.

Dowker wou die briefie aan Primeau terugbesorg, maar Primeau wil hê die bootmaatskappy moet die briefie hou sodat dit uitgestal kan word. Primeau het intussen nog foto’s van haar pa vir Dowker aangestuur sodat dit saam met die briefie uitgestal kan word. “Ek wil hê my pa se nalatenskap moet voortleef en dat mense dit kan sien,” het sy gesê.

Primeau is van voornemens om in September te gaan kuier om die briefie eerstehands te sien. Sy en Dowker het tot dusver nog net op Zoom gesels.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

modiglianigirl ·

Opwindende ontdekking. Dankie vir die lekker verhaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.