Driejarige nou lid van Mensa

Muhammad Haryz Nadzim (Foto: Nur Anira Asyikin/Facebook

ʼn Driejarige seun van Maleisië, wat in die Verenigde Koninkryk bly, is tans die jongste lid van Mensa UK – die internasionale vereniging vir persone met hoë IK’s.

Muhammad Haryz Nadzim is genooi om by Mensa aan te sluit ná hy tydens ʼn ontmoeting met ʼn sielkundige 142 op die Stanford-Binet-IK-toets behaal het. Dit beteken Haryz is deel van slegs 0,3% van die bevolking met só hoë IK.

Metro UK berig Haryz se ma, Nur Anira Asyikin Hashim (30), het gesê die geheim van haar seun se intelligensie is waarskynlik dat hy al vroeg aan boeke blootgestel is. Die slimkop was maar sewe maande oud toe hy sy eerste woorde gesê het. As tweejarige het hy reeds vir homself slaaptydstories gelees.

Anira en haar man, Mohd Hilmy Naim Mohd Yakin, het albei ʼn agtergrond in ingenieurswese. Hulle het egter nooit verwag dat hul seun só slim sou wees nie. “Ons het nie baie ervaring nie, so ons het gedink dis maar net hoe kinders is,” verduidelik Anira. “Eers toe hy kleuterskool toe is, het ons gehoor hy is meer gevorderd as ander kinders.”

Anira en Mohd Hilmy het ʼn YouTube-kanaal, genaamd Little Haryz, begin om ander kinders aan te moedig.

Ondanks sy hoë IK, sê Anira haar seuntjie is in alle ander opsigte net soos enige driejarige. “Hy spring graag in poele, verf graag, sing graag … al die dinge wat ʼn ander driejarige van hou. Sy gunstelingprogramme is Story Bots en Numberblocks, maar hy gesels graag met ouer kinders en volwassenes.”

Haryz vra ook graag vrae oor die ruimte en wiskunde.

Foto: Nur Anira Asyikin/Facebook

Die egpaar is dankbaar dat hy ʼn lid is van Mensa en glo dit is sy eerste treë in sy reis om ongelooflike dinge te vermag. “Dit is opwindend en ons is seker dit sal hom selfvertroue gee. Die belangrikste ding is dat hy tevrede sal wees met enigiets wat hy wil doen, en ons sal trots wees op hom maak nie saak wat hy bereik nie.”

Mensa se vereiste vir lidmaatskap is dat persone minstens of meer as 98% op sekere gestandaardiseerde IK-toetse moet behaal, soos die Stanford-Binet-IK-toets. Die minimum aanvaarde slaagsyfer op Stanford-Binet is 132 en vir Cattell 148.

Mensa International het ongeveer 134 000 lede in 100 lande.

Elise Tan-Roberts, ook van die Verenigde Koninkryk, is die jongste persoon wat ooit by Mensa aangesluit het. Sy het volledige lidmaatskap ontvang toe sy slegs twee jaar en vier maande oud was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

aj ·

Ek wonder of die geweldige hoè intelligensie sover enige wêreldklas PRESTASIES opgelewer het?

Of is dit net nuttelose statistiek?

Saartjie ·

aj, jy is welkom om te gaan Google: https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_Mensans

Net vir interessantheid: Geena Davis is ook op die lys en John McAfee, wat die eerste anti-virus program geskep het. Daar is selfs ‘n stoeier ook op die gewildsheidslys.
Die groep mense is in der waarheid slim en ook produktiewe lede van die wêreldgemeenskap. :)

Stof ·

Darryl se woordspel is briljant. Welgedaan. Kan ons hom dalk ook lidmaatskap aanbied?
Ek is gaande daaroor as mense taal opreg koester, en nie bloot brabbel nie.

René Joubert ·

Kan hulle nie vir my enetjie kloon vir aanneming nie, net oor daai pragtige, rustige kyk, gesiggie, geen probleem sal ooit vir hom te groot wees nie. Soos hy daar lyk, so sal hy blymoedig als aanpak, watter aanwins vir ons planeet sal hierdie mannetjie nie ‘binnekort’ wees nie.

Stormrider ·

My dogter het ‘n lid van Mensa geword op 5-jarige ouderdom, ons het haar ook deur ‘n sielkundige laat sertifiseer. Mensa het ‘n Magic program vir die intelektuele stimulering van kinders met superieure IKs.

Fanie du Preez ·

My swaer se dogtertjies van 13 gaan hoërskool toe ….hulle dra net plakkies,crocs en slip-on skoene…want hulle kan nog nie skoene met veters vasmaak nie …ook nie hul eie hare borsel en n vlegsel of ponie-stert daarmee maak nie.

Bril ·

Enige Mensa-kandidaat wat sy sout werd is moet oppas vir hierdie organisasie. Ek weet die Amerikaanse tak is reeds deur die globaliste gekaap (bron: ‘n Mensa-lid wat dit verlaat het). Nie seker van die situasie in Suid-Afrika nie, maar ek vermoed sterk dit sal ook so in Europa wees. Die impak is dat hoogsbegaafdes polities “gedraai” sal word in hulle guns. Hierdie hoogsbegaafdes is veronderstel om ons toekomstige leiers te word maar werk dan vir die vyand. As u ‘n hoogsbegaafde met bietjie lewensondervinding is wat hierdie leserskommentaar lees – u behoort te weet wat ek hiermee bedoel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.