Drieling vier hul 93ste verjaarsdag

Die drieling as babas (Foto: Guinness-wêreldrekords)

Larry Alden Brown, Lon Bernard Brown en Gene Carol Brown, gebore op 1 Desember 1930, het Vrydag hul 93ste verjaarsdag gevier.

Volgens Guinness-wêreldrekords is hulle die wêreld se oudste drieling (manlik).

“Ons wou dit graag vir nog een keer saam gevier het, maar my broer Gene in Oklahoma is siek en kon nie reis nie,” het Larry gesê.

Die drieling was laas saam toe hulle hul 92ste verjaarsdag gevier het en kon saam met hul families kuier.

Ondanks die afstand, sê Larry hulle was deur die jare heen baie geheg aan mekaar. Hulle het altyd seker gemaak hulle sien mekaar wanneer moontlik en hul kinders is ook vandag nog steeds geheg aan mekaar.

Die broers, oorspronklik van Kalvesta, Kansas in die VSA, is tydens die Groot Depressie gebore. Larry was eerste, gevolg deur Lon en daarna Gene.

Die broer het drie ouer broers en ʼn suster. Hulle is almal reeds oorlede.

“Hulle was almal baie ouer. Ons was laatlammetjies en ʼn groot verrassing vir ons ouers,” het Larry bygevoeg.

Die broers het na Nevada, Missouri, met hul gesin verhuis toe hulle sewe jaar oud was. Hulle het nog steeds goeie herinneringe van Nevada.

Larry sê alhoewel hulle, net soos broers, soms gestry het, was dit wonderlik om deel te wees van ʼn drieling, want daar was altyd iemand om mee te speel. Hy sê hulle was nie net broers nie – hulle was vriende.

Teen die tyd toe die Tweede Wêreldoorlog aangebreek het, het hulle hul ouer broer Gleeson se huis naby Garden City, Kansas, begin besoek waar hulle in die somer by ʼn vulstasie gewerk het. “Ons het genoeg geld gemaak om klere, handboeke en ander skoolbenodigdhede te koop,” vertel Larry. “Ons het tot 1948 daar gewerk.”

Die seuns het soos mekaar aangetrek totdat hulle nie meer van die aandag gehou het nie.

Die drieling meld aan vir die Lugmag (Foto: Guinness-wêreldrekords)

Toe die Koreaanse Oorlog tussen 1950 en 1951 begin het, wou al drie broers by die Lugmag aansluit. Lon en Gene is aanvaar, maar Larry is nie toegelaat nie, weens sy asma.

Lon het later ʼn pastoor geword by ʼn Baptistekerk en het selfs Larry en Gene se huwelike waargeneem.

Gene het ná sy diens elektriese ingenieurswese gaan studeer. Hy het tot met sy aftrede vir die Phillips Petroleum Company gewerk.

Larry het vir ʼn rukkie lank vir die Boeing-maatskappy gewerk, en het daarna tot met sy aftrede vir General Motors in Kansas gewerk.

Larry het drie kinders, agt kleinkinders en 12 agterkleinkinders.

Lon het vier kinders, ses kleinkinders en drie agterkleinkinders.

Gene het twee kinders, ses kleinkinders en 10 agterkleinkinders.

Larry en Lon woon in ʼn aftreeoord in Foxwood Springs in Raymore, Missouri en Gene woon in Bartlesville, Oklahoma.

Alhoewel hulle nooit gedink het hulle sou ʼn rekord gehaal het nie, is Larry baie dankbaar dat hulle lank genoeg kon leef om dit reg te kry. Hy sê die geheim vir ʼn lang en gesonde lewe vir hom en sy broers is om nie te rook nie, nie te drink nie en weg te bly van dwelmmiddels.

“Ons het mekaar altyd as vriende en broers gehad en ons het mekaar altyd beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.