ʼn Besope Duitser het bo-op ʼn perd, genaamd Sandy, aan die slaap geraak nadat hy nie ná sy aandjie uit by sy huis kon uitkom nie.
Guenther Schroeder (26) is die aand weg by die kroeg in Bavaria sonder sy baadjie. Hy het die laaste bus huis toe gemis en besef hy het geen heenkome vir die aand nie.
Hy het by ʼn stal uitgekom met ʼn bed van hooi, wat glo onweerstaanbaar gelyk het, aangesien dit baie koud was. “Daar was genoeg hooi, maar daar was oral perde,” het Schroeder gesê. “Ek het die kombers op die perd gesien, en die perd het so vreedsaam gelyk, dat ek besluit het as ek nie onder hom kan slaap nie, gaan ek bo-op hom slaap.”
Schroeder sê dit was lekker warm en gemaklik totdat die polisie hom wakker gemaak het.
Hy het twee dae later teruggekeer na die stalle om die perd se eienaar, Barbara Zoch, om verskoning te vra, het Metro berig.
“Dit is vreemd dat die perd nie omgegee het dat hy op hom slaap nie,” het ʼn woordvoerder vir die polisie gesê. “Om die waarheid te sê, Schroeder het eers afgeval toe die beamptes hom probeer wakker maak het. Hulle het hom darem gevang.”