Duisende kies kat moet bly

Anastasia voor die Rektorspaleis in Dubrovnik (Foto: Maris Sisevic/AFP)

Duisende mense het ʼn petisie onderteken teen die uitsetting van ʼn 17-jarige rondloperkat uit haar huis buite ʼn geskiedkundige paleis in Kroasië se toeristestad Dubrovnik.

Anastasia spandeer haar dae voor die 14de eeuse Rektorspaleis in die Ou Stad en is ʼn gunsteling onder plaaslike inwoners en toeriste.

Ondanks pogings om vir haar ʼn huis te vind, keer sy telkens terug na die paleis. Vrywilligers het ʼn kartonbokshuis vir haar op die paleis se voorstoep ingerig. Die stad se museum-owerheid was egter nie hiermee beïndruk nie.

ʼn Diereliefhebber het daarna vir haar ʼn klein houthuisie gemaak – in die styl van die paleis – ʼn mengsel van Gotiese, Renaissance en Barok-argitektuur. Daar is selfs ʼn naamplaat waarop “Anastasia” pryk. Owerhede het egter ook hul neuse opgetrek vir dié huisie en beveel dat dit verwyder moet word.

Die bestuur het gesê niemand mag Dubrovnik se “unieke kulturele en geskiedkundige geheel verander nie, veral nie deur skuilings of huise op te rig nie”.

Dié besluit het egter ʼn storm op sosiale media ontketen en teen Saterdag het meer as 12 000 mense reeds ʼn petisie onderteken wat eis dat Anastasia se tuiste herstel moet word.

“Dis haar huis,” sê Srdjan Kera, die argitek van Anastasia se woning. “Ons praat net van een kat, nie 70 katte nie.”

Mato Frankovic, burgemeester van Dubrovnik, het die museum se besluit ondersteun. Hy benadruk dat die “Pêrel van die Adria” (soos Dubrovnik ook vanweë sy kulturele betekenis bekendstaan) slegs “fat cats” (geldvrate) het, en “nie maer katte nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Phillip ·

Sy doen mos haar deel in die samelewing en beskrem mos die gebou teen rotte en muise . Sou se sy moet bly .

Misky ·

Klink eerder asof sy meer toeriste lok as wat sy skade kan aanrig. Ek dink dis dierbaar en dink ook sy moet bly; Prinses Anastasia in haar eie klein paleis.

Sandra ·

Die feit dat sy telkemale terugkeer na die paleis terugkeer, beteken dat sy moontlik, as mens in so iets glo, voorheen ‘n inwoner daar was. Die paleis is net ‘n gebou, alhoewel histories. Die kat doen nie skade aan die gebou nie. Sy slaap in haar eie huisie wat iemand liefdevol vir haar gebou het. Die “powers that be” is nou net aspris. Mens moet die petisie wereldwyd maak. Met soveel probleme in die wereld, is die kat se storie inspirerend vir almal wat die plek besoek, en sy sit seker ‘n glimlag op almal se gesigte, en laat hulle ‘n rukkie van hulle probleme vergeet. Laat haar bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.