Duurste glas whisky is toe waardeloos

Die bottel Macallan 1878 (Foto: Sandro Bernasconi)

Kenners in Skotland sê die analise van een van die wêreld se duurste whiskies, wat teen meer as $10 000 (ongeveer R141 000) per glas verkoop is, is ʼn vervalsing.

Konsultante by Rare Whisky 101 is versoek om ʼn bottel 1878 Macallan-enkelmoutwhisky te ondersoek, nadat dit aan ʼn Chinese connoisseur by die Hotel Waldhaus Am See in die Switserse oord, St Moritz, verkoop is.

“Rare Whisky 101 het bevind die whisky is ʼn moderne vervalsing,” het die konsultante in ʼn verklaring bevestig. Laboratoriumtoetse het bevind dat daar ʼn 95% kans bestaan dat die alkohol tussen 1970 en 1972 geskep is, en dat dit waarskynlik ʼn gemengde whisky is.

Zhang Wei, ʼn bekende Chinese skrywer, was agterdogtig toe die hotel die glas whisky teen 9 999 Switserse frank verkoop het. Dit is glo die duurste wat ooit vir ʼn glas whisky betaal is. ʼn Regte bottel sou ongeveer 300 000 Switserse frank (R4,2 miljoen) kos.

“Ons het die afgelope jaar toenemend al hoe meer vervalste bottels in die mark opgemerk,” het David Robertson, medestigter van Rare Whisky 101, gesê. “Dit is moeilik om te weet presies hoe groot die probleem is.”

Die hotelbestuurder, Sandro Bernasconi, het in ʼn verklaring gesê die uitslag is “ʼn groot skok” vir die hotel, en die hotel het glo die klant vergoed vir sy uitgawe. Die hotel spog daarmee dat sy kroeg, “The Devil’s Place”, die wêreld se grootste whiskykroeg is, met meer as 2 500 verskillende tipes whisky.

Bernasconi het verduidelik sy pa het die bottel 25 jaar gelede aangeskaf, toe hy nog die bestuurder van die hotel was. Die bottel was nog nooit vantevore oopgemaak nie en Bernasconi was besorg dat die kurk sou disintegreer as hulle dit sou oopmaak – en gesê die bottel is nie te koop nie. Wei het egter daarop aangedring dat hulle die bottel oopmaak en Bernasconi het sy pa gebel. “Hy het gesê ons sou waarskynlik nog 20 jaar lank wag vir nóg ʼn kliënt, en ons het besluit ons sal dit oopmaak.”

Die twee mans het die bottel oopgemaak en van die whisky gedrink. Dit was nogal ʼn teleurstelling.

Zhang het later sy ervaring op Weibo, ʼn Chinese sosialemediaplatform soortgelyk aan Twitter, gedeel. Sy lesers het egter die foto’s nagegaan en op teenstrydighede afgekom op die etiket en kurk. Iets was duidelik nie pluis nie, en kenners het die hotel gekontak. Bernasconi het hierna Rare Whisky 101 gekontak.

Ná die teleurstellende uitslag, het Bernasconi na China gevlieg om Zhang persoonlik te vergoed. “Hy het my bedank vir die hotel se eerlikheid en gesê sy ervaring in Switserland was baie goed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.