Eetstokkies toe die rede vir man se hoofpyn

Argieffoto (Foto: tookapic / Pixabay)

ʼn 35-jarige man het verlede maand by die Vietnam Cuba Hospital in Dong Hoi aangemeld en gekla oor hoofpyn, sigverlies en vog wat by sy neus uitkom.

Hy ly al maande lank en dokters het besluit om ʼn CT-skandering te doen, omdat die man nie ʼn idee gehad het wat fout kon wees nie.

Toe dokters die skandering bestudeer, het hulle ontdek daar is “twee vreemde voorwerpe in sy neus wat op sy brein druk”, berig Oddity Central.

Dié twee voorwerpe was afgebreekte Chinese eetstokkies wat op ʼn manier in die pasiënt se neus beland het.

Ná die man ʼn ruk lank daaroor nagedink het, het hy onthou van ʼn dronkbakleiery in ʼn kroeg vyf maande tevore. Hy is daardie aand by die ongevalle opgeneem, maar dokters kon nie enigiets ernstig fout vind met hom nie. Hy vermoed nou die persoon met wie hy baklei het, het waarskynlik daardie aand eetstokkies in sy neus opgedruk.

Hy is verbyster dat hy iets in sy neus gehad het en nie daarvan geweet het nie, berig Vietnam.vn.

Dr. Nguyen van Man, hoof van die neurochirurgie-afdeling by die hospitaal, is net so verbaas. Hy het gesê dit is ʼn “uiters seldsame voorval”, aldus WION. Dokters kon die eetstokkies tydens ʼn operasie verwyder. Dit was suksesvol en hy is daarna ontslaan.

(Foto: BVCC via Vietnam.vc)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.