Egpaar dreig hul seun: ʼn Kleinkind of R10 miljoen

Argieffoto (Foto: Kathrin Pienaar/Pixabay)

ʼn Egpaar van Indië wil hul seun dagvaar en eis dat hy en sy vrou óf binne ʼn jaar ʼn kleinkind vir hulle voortbring óf meer as R10 miljoen vir hulle gee.

Sanjeev en Sadhana Prasad sê hulle het hul spaargeld uitgeput om hul vlieënier-seun groot te maak en op te voed en vir ʼn luukse troue te betaal. Nou wil hulle vergoed word.

“My seun is al ses jaar lank getroud, en steeds beplan hulle nie om swanger te word nie. As ons ʼn kleinkind het, sal dit minstens ons pyn draaglik maak,” het die egpaar verlede week in hofdokumente in Haridwar aangevoer.

Hulle eis vergoeding van 50 miljoen Indiese roepees (meer as R10 miljoen), insluitend die koste van ʼn onthaal vir die troue in ʼn vyfsterhotel, ʼn luukse motor ter waarde van ongeveer R1,2 miljoen en die koste van hul seun se wittebrood oorsee, het die Times of India Donderdag berig.

Die ouers het ook $65 000 (net meer as R1 miljoen) betaal om hul seun in die Verenigde State van Amerika op te lei as ʼn vlieënier, net sodat hy werkloos teruggekeer het na Indië.

“Ons moes ook ʼn lening uitneem om ons huis te bou en nou het ons finansiële probleme. Ons ly ook sielkundig, omdat ons alleen bly,” het die egpaar bygevoeg.

Die egpaar se prokureur Arvind Kumar sê die saak sal op 17 Mei in die hof in die noorde van Indië voorkom.

Indië het sterk beginsels oor saamgestelde families waar baie generasies, insluitend grootouers, neefs, tannies en ooms in dieselfde huis bly. Die neiging het egter die afgelope paar jaar verander en jong paartjies kies om nie by hul ouers, of broers en susters te woon nie, en, soos in hierdie geval, kies vroue om eerder te werk as om op kinders te fokus en by die huis te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wat op dees Aarde ·

Ag asseblief. Julle seun het nie gevra om hier te wees nie. Julle wou hom gehad het. Ek raak so negatiewf wanneer ek sien ouers blameer kinders vir die ouers se pyn en lyding. My ouers doen dit ook. Ek het nie gevra om hier te wees nie, Los my laat ek my lewe lei.

Tersia ·

Wat op dees Aarde … Jou ouers het ook nie gevra om hier te wees nie.

Di ·

Sjoe, wens die meerderheid in ons land wil ook die beginsels van GEEN KINDERS implimenteer. Hier by ons gebeur net die teenoorgestelde, TE VEEL kinders

Annie Webb ·

Ou storie: ouers wat alles vir hulle kinders gee en dan dividende op hulle belegging verwag, terwyl die kinders vere voel vir hul ouers, wat nou finansieel swaarkry. Nog nie gehoor hulle soek kleinkinders nie, dis ander kultuur se obsessie. Soveel van ons vriende is in daardie posisie en dis hartseer om te aanskou. Wat sê mens om hulle te troos? “Jeez, maar jy’t darem goor kinders”?

Carin ·

Hulle het seker tog nie nodig gehad om soveel geld op sy troue ens ens te spandeer nie?

Johanna ·

Ek stem saam met die ouers. Ja die seun is hulle kind. Maar kinders kan die mees selfsugtigste wesens wees onder die son. Traditional is kleinkinders baie belangrik vir hierdie ouers. Dit alleen is respek waardig. Dit wil voorkom dat hierdie seun.nie die waarde van sy ouers besef nie. Hy het ook nie waardeer wat hulle spandeer het op hom om n vlieenier te word nie. Die seun behoort meer om te gee vir sy ouers.
Om te sê “hy het nie gevra om daar te wees nie” is tipies van ondankbare kinders. Dit was GOD se WIL dat hy gebore is. Hy moet ophou om alles “for granted” te vat. “WHAT GOES AROUND COMES AROUND”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.