Egpaar “getroud” op 4 jaar; ná 87 jaar steeds saam

Ron en Eileen Everest as “bruid” en “bruidegom” toe hulle vier jaar oud was; met hul huwelikseremonie in 1943 en tydens hul 70ste huweliksherdenking in 2013

Sewentien jaar nadat hulle as vierjariges soos ʼn bruid en bruidegom aangetrek het, is Ron en Eileen Everest in die eg verbind. Die egpaar het onlangs hul 70ste huweliksherdenking gevier.

Die egpaar, albei 91 jaar oud, van Norfolk in Engeland is ook maande uit mekaar in dieselfde kraamsaal gebore. Hul pa’s het saam diens gedoen in die vloot tydens die Eerste Wêreldoorlog en die twee was van kindsbeen af groot vriende.

Eileen se familie het egter net nadat die twee soos ʼn bruid en bruidegom aangetrek is, na Greenwich in die suid-ooste van Londen verhuis. Hulle het ʼn dekade later weer na Welling en Kent verhuis, maar in daardie stadium het Ron en sy gesin in Gravesend gevestig.

Toe hulle 18 jaar oud was, het Eileen haar hart verloor op Ron in sy vlootuniform. “Ek het begin werk en daar was ʼn telefoon en ek wou graag iemand bel,” het Eileen aan die Daily Mail gesê. “Ek het my ma gevra of sy iemand ken wat ʼn telefoon het, en sy het my na Ron se ma verwys.” Die twee gesinne het weer oor en weer begin kuier.

Ron en Eileen het vir mekaar begin skryf en die romanse het geblom.

Ron het in 1940 in ʼn brief sy trou aan Eileen beloof, maar hulle kon nie dadelik trou nie, aangesien hy diensplig moes voltooi. Die twee is uiteindelik in 1943 in die eg verbind.

Die egpaar het slegs een dogter, Carol (nou 68 jaar oud) en een kleinseun, Maxwell (nou 38).

“Soms gaan dit maar rof, maar ons druk deur. Ek dink ons sal vir altyd saam wees,” het Eileen gesê.

“Ons het ʼn belofte aan mekaar afgelê om mekaar lief te hê en te eer,” het Ron gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amanda/Sindy ·

Ai lekker om weer so positiewe artikel te lees. Lank lewe die liefde!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.