Ek is nie ʼn virus nie, sê man genaamd Kovid

Kovid Kapoor met ʼn Corona-bier by ʼn familielid se huis in Mumbai (Foto: Handout/AFP)

Wat is in ʼn naam? Dit het van die Indiese reisiger-sakeman Kovid Kapoor ʼn sensasie op sosiale media gemaak.

Die 31-jarige se Twitter-profiel verklaar: “My naam is Kovid en ek is nie ʼn virus nie.”

Hy het verlede week gesê hy het vir die eerste keer sedert die aanvang van die pandemie buite Indië gereis “en talle mense het vir my naam gelag”.

“Toekomstige reise oorsee gaan prettig wees!” het hy in ʼn plasing geskryf.

Die plasing het talle grappe, meme, boodskappe en versoeke vir onderhoude uitgelok in ʼn oomblik van ligte vermaak waar die hoogs aansteeklike Omikron-variant ʼn groot toename in gevalle in Indië veroorsaak het.

Kapoor maak self grappies en sê hy is al “Kovid-positief sedert 1990”. Hy het ook ʼn foto gedeel waar hy ʼn Corona-bier vashou.

“Ek is Kovid en ek wil nog meer reis,” skerts die medestigter van Holidify.

ʼn Drankie wat Kovid Kapoor bestel het met sy naam daarop geskryf in ʼn koffiewinkel in Mumbai (Foto: Handout/AFP)

Hy sê die skielike aandag “was heeltemal onverwags”, maar hy hoop dat dit blootstelling sal gee aan sy onderneming “tydens ʼn baie moeilike tyd vir die bedryf”, het hy aan AFP gesê.

Sedert die aanvang van die pandemie het hy nooit ʼn tekort aan ysbrekers by vergaderings nie, maar het koffiewinkels gevra om nie sy naam aan te kondig wanneer sy bestelling gereed is nie.

Kovid is ʼn ongewone naam in Indië, maar dit beteken “skolier” of “geleerde” in Hindi en Sanskrit met die “d” wat baie sag uitgespreek word.

Kapoor se ma het die naam lank voor sy geboorte al gekies. “Dit is ʼn naam wat mens maklik onthou en dit het ʼn baie mooi betekenis. Dit het nog altyd ʼn indruk gemaak as ek iemand ontmoet. Ek sal dit nooit verander nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.